GRAAFF-REINET NUUS - Om teen die dodelike koronavirus te baklei, verg 'n spanpoging. Maar om dit vir twee maande in 'n hospital se hoësorgeenheid te doen, sonder dat jy van enigiets om jou bewus is, is 'n wonderwerk.
Daarvan kan Jonathan van der Rheede, 'n afgetrede polisiekolonel van Graaff-Reinet, getuig. Sy stryd om die virus te oorwin is 'n verhaal van 'n amper bomenslike terugvegpoging. 'n "Oorlog" wat hom op fisieke, emosionele en geestelike vlak uitgemergel het.
Hoewel hy nou tuis by die huis aansterk, is die herstelpad nog lank nie op 'n einde nie. Maar, vertel Jonathan in 'n onderhoud met Graaff Reinet Advertiser, die belangrikste is dat ek "uit die tentakels van die koronavirus ontsnap het om weer tuis by my mense te wees. Ek het dié slagveld, wat derduisende lewens wêreldwyd geëis het en steeds eis, lewendig verlaat."
Jonathan sê hy het die virus opgetel in November 2020 toe hy en twee van sy rolbalmaats van Graaff-Reinet in Jeffreysbaai aan 'n spankompetisie gaan deelneem het.
"Die toernooi het die Sondag ten einde geloop en net ná middagete het ek gevoel iets is nie lekker nie. Ek het die laaste wedstryd met 'n effense kuggie gesukkel, maar nie veel daarvan gedink nie.
"Op pad terug na Graaff-Reinet het ons nog oor die simptome van Covid gesels, maar ek kon voel iets is nie pluis nie."
Jonathan, wat einde Mei 2020 ná 'n loopbaan van 34 jaar - waarvan die laaste 20 jaar op Graaff-Reinet - in die polisie afgetree het, het die Maandag nog sy dogter vir behandeling na Port Elizabeth geneem. Die Dinsdag het hy hom laat toets en twee dae later het sy uitslae bevestig dat hy positief was.
Ek het onmiddellik vir tien dae in my huis geïsoleer. Toe het my simptome vererger: my bors het toegetrek en ek het gesukkel om behoorlik asem te haal. Die Saterdag is ek per ambulans na die St. George's-hospitaal in PE geneem.
"Die eerste drie dae is ek in 'n gewone saal opgeneem en het ek nie te sleg gevoel nie, maar toe is ek na die onkologie-afdeling oorgeplaas. Daarna het dinge vinnig begin uitrafel."
Jonathan sê die saalsuster het hom nog gevra waarom sy gesig so blou is. "Hulle het 'n tipe masker oor my kop geplaas sodat ek beter kon asemhaal, maar van daar af het dinge vinnig vervaag. Dit was asof ek in en uit 'n diep koma gedrywe het."
Van sy 61 dae in die hospitaal se hoësorgeenheid kan hy weinig onthou. "Kersfees en Nuwejaar het my verbygegaan. Ek was onder swaar verdowing en is ek deur nagmerries geteister. In een het ek gedroom ek word doodgeskiet."
Jonathan is op 28 Januarie uiteindelik uit die hoësorgeenheid na 'n gewone saal oorgeplaas. "Dit was my voorland die volgende vier weke. Ek het 18 kg verloor en het gesmag na roomys. Die ergste was dat ek feitlik niks vir myself kon doen nie. Ek kon skaars drie treë op my eie met 'n loopraam stap voor ek wou omkap en dit was 'n inspanning om 'n lepel of vurk op te tel. En daai vervlakste bedpan was erg."
Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, is hy vir nog 'n maand vir rehabilitasie na die Aurora-hospitaal, ook in PE, geneem. "Hier moes ek leer om weer van vooraf te stap - met 'n loopraam - en moes ek allerhande oefeninge doen om my spiere weer soepel te kry. My hare is toe ook vir die eerste keer gesny vandat ek met Covid hospitaal toe is.
"Hoewel geen familie of besoekers by my toegelaat is nie, kon my vrou, Allison, drie video-oproepe na my toe maak. Dit was hemels. Die verpleegsters was fantasties en het vir my 'n dubbele boerieburger gaan koop."
Allison van der Rheede kon haar man, Jonathan, vir die eerste keer in bykans vyf maande vir 'n halfuur in die hospitaal besoek.
Op 26 Maart vanjaar kon Allison haar man vir die eerste keer vir slegs 'n halfuur besoek. En net daarna is hy terug huis toe.
In Mei het Jonathan begin kla van pyne in sy bors en is hy terug na 'n hospitaal in Uitenhage, waar hy drie weke vir toetse deurgebring het. "Gelukkig was dit niks ernstigs nie, maar net my longe wat nog nie ten volle van die virus herstel het nie. Dit, sê die dokters, gaan nog maande neem."
Jonathan sê hy rus baie, bly tuis en hy drink sy medikasie getrou. Hy kry steeds fisiobehandeling en kan glad nie diep asemhaal nie.
"Maar ek is flink op die herstelpad danksy my vrou, my grootste steunpilaar, familie wat haar kom oppas het terwyl ek in die hospitaal was, en my talle vriende wat gereeld boodskappe van bemoediging aangestuur het. Dit het my deur dié donker tyd gedra.
"Dis net 'n genade van God. Dis goed om gesond te wees, maar 'n siekte soos Covid-19 bring jou nader aan jou Skepper."
Jonathan sê raad aan almal daarbuite is om net nie "paniekbevange" te raak nie. "Bly net kalm én positief."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'