KAROO NUUS - My afspraak met oom Klaas lei onvermydelik na gesels oor die verkiesing op 29 Mei.
"Man, te veel van ons verwar 'n nasionale verkiesing met skole se kleureatletiek.
"Vanmelewe was my kleinkind – my nefie aan susterskant – een jaar by ons in die huis om 'in die Republiek' te begin skoolgaan. Ek en hy is toe saam in dieselfde laerskool en my ouer broer reeds in die hoërskool, net langs die laerskool. Daai jaar, met kleureatletiek, is ek in die blouspan en hy in die rooispan.
"My ouer broer was in die hoërskool se rooispan. Die laerskool se kleureatletiek word toe gewen deur die blouspan; en ek spog asof ek daai hele atletiekdag persoonlik self op my se eie gewen het.
"My nefie, Marthinus, jongste in die huis en erg kompeterend, sluk swaar aan die nederlaag. En hoe meer ek sout in sy wonde vryf, hoe ongeduriger raak hy. Dit vat min, dan is ons twee sommer aanmekaar. Ons draai kort van volbloed vuisgevegte, totdat my broer tussenbeide tree.
"Hý reken toe die régte wenner is eintlik die span wat die hoërskool se kleureatletiek wen, want dis waar ernstige atletiek gebeur – kinders baie groter en sterker as ons ou tweetjies. Ek en Marthinus bly steeds atletiek-aartsvyande, maar besluit toe saam die werklike wenner sal by die hoërskoolbyeenkoms bepaal word.
"So breek die dag aan en ons is reg langs mekaar, saam met my ouers, op die pawiljoen in die middelblok, met die rooispan aan ons een kant en die blouspan aan die ander kant. Omdat ons laerskoolkinders is, word ons nie in die kleureblokke toegelaat nie.
"Soos die dag vorder, is dit 'n titaniese puntestryd tussen die twee spanne. Toe die aand se hoogtepunt en laaste item, die 4 x 100 m-aflos aanbreek, is daar so min verskil tussen die twee spanne dat dit die bepalende faktor is vir watter span gaan wen.
"Nou moet ek gou onderbreek om vir jou te sê op daai stadium het puberteit by my begin kuier en ek het 'n ongelooflike groot pitseer reg onder my neus net bokant my bolip gehad. Maar man, 'n karbonkel van 'n ding, hoor jy, en diep seer, behoorlik so seer soos dit onooglik was.
"Nou ja ... die aflos word gehardloop en die blouspan se laaste naelloper hardloop asof hy vlerke het. Toe hy die lint breek en die blouspan daarmee wen, is dit chaos op die pawiljoen. Ek spring ook op en juig uit volle bors, Marthinus langs my skoon vergete. Ek is verlore in die oomblik. Maar met my ma ook langs my, word ek vinnig teruggedwing in sittende posisie.
"Skaars het ek weer gesit, toe sien ek sterre. Ek het die hou nie eers gesien kom nie. Marthinus was by breekpunt en wou my net stilkry. Met die rugkant van sy hand het hy my net hard genoeg getref – mooi uitgemeet en gemik vir presies op die pitseer.
"Oombliklik is dit net bloed en gemors oor die onderste deel van my gesig – ek in ongelooflike, verswelgende pyn en totaal oorbluf; hy aanvanklik triomferend en toe onthuts oor die effek van wat hy as 'n ligte dwarsklap bedoel het ... en toe tref my ma se toorn ons al twee ...
"Dis baie, baie dekades later, en kyk hier, sien jy hierdie merkie – dis die litteken van daai aand af.
"Nou, hierin lê dit: vir te lank beskou te veel van ons 'n nasionale verkiesing soos kleureatletiek – ons beskou die verkiesing as 'n kompetisie wat deur 'n span, oftewel party, gewen of verloor word. Ons kies elk ons span en ondersteun hulle dan met 'n slaafse lojaliteit ver anderkant kognitiewe rede.
"Ons raak passievol emosioneel oor ons span; asof ons eie identiteit daardeur bepaal word. Maar 'n nasionale verkiesing is eintlik 'n seer persoonlike, kognitiewe proses. Dit is die verlening en bekragtiging van 'n sosiale kontrak waarin die individu afstand doen van sy individuele, inherente menslike vryhede en regte, deur dit toe te vertrou aan 'n gesagstruktuur van sy keuse.
"Eeue gelede het ouens soos Immanuel Kant, Thomas Hobbes, John Locke, en Jean-Jacques Rousseau dit alreeds uitgepluis: in 'n samelewing is dit die wedersydse handhawing van 'n sosiale kontrak tussen burgers en die gekose gesagstruktuur wat verhoed dat die samelewing in algehele chaos verval.
"Ons stem nie vir 'n kleureatletiekspan wat wen of verloor wanneer die laaste kruisie getel is nie. Ons sluit 'n kontrak met 'n gesagstruktuur waarkragtens ons aan daardie struktuur magtiging verleen om ons Godgegewe vryhede in te perk en ons inherente regte te beskerm.
"Dit is 'n verhouding wat eers begin nadat die laaste kruisie getrek is; en dit beïnvloed elkeen van ons se opstaan en gaan slaap daarná."
Oom Klaas sug: "Ons sal 'n demokrasie hê eers die dag wanneer ons nie politiek verwar met atletiek nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’