RUBRIEK - Ek ry nou die dag van Graaff-Reinet na Oudtshoorn, weereens om te gaan kyk of die bloedjie van my darem kos het en om hom so bietjie TLC te gee.
Terwyl ek na musiek luister, maal daar mos gedurig 'n hele klomp goed deur my kop – hoekom die Wonderboom net buite Willowmore dan nou omhein is, tot waarom my kar se cruise control-knoppie so ingewikkeld en ongemaklik is om te stel.
Die eerste dooie dier wat ek op die teerpad gewaar is platter 'n plat 'iets', en dis nie vyf kilometer verder nie of ek sien iets wat lyk soos 'n meerkat, katswink geslaan deur een of ander voertuig.
So gaan dit, elke paar kilometer verder lê daar een of ander wilde diertjie, dood in die teerpad ingetrap.
Dan dink ek aan die hond wat seker sowat 25 jaar terug in een van die hoofweë van Pretoria gelê het. Die hond, wat deur motoriste as 'n dooie dier gemerk is, was toe al die tyd 'n lewendige een. Dit was glo eers op dag drie wat die hond sy kop gelig het en iemand brieke aangeslaan het om die arme dier in nood te help.
Dit is 'n storie wat my lank gepla het, hoe ons as mense 'n pad kan regverdig.
My oorlede man was 'n omgewingskundige, en het altyd gesê dat 'n pad 'n omgewings disaster is. Nie net belemmer dit die natuurlike vloei van diere se migrasie nie, maar dié wat dit durf oorsteek, boet soms met hul lewens.
Nou wonder ek so terwyl ek ry, hoe dit van toespassing is op ons lewens… Kyk ons links en regs wanneer ons die pad oorsteek, of hardloop ons blindelings oor, in die hoop dat ons dit tot by die ander kant gaan maak?
Soms word jy in die teerpad ingetrap, maar soms is jy gelukkig.
Op die ou einde is dit net so, wie nie waag nie, wen nie, maar kyk tog net eers regs, dan links en weer regs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’