RUBRIEK - Haas geen wind gister nie. Tog, kyk uit by die kombuisvenster en daar lê dit: een van die grootste rolbosse wat ek nog gesien het. Stoksielalleen.
Massief – asof uit die niet verskyn hier reg voor die kar se neus. Onder die groot peperboom. Asof daar vergeet, onmiskenbaar lewensgroot eensaam.
Ek maak asof ek dit nie sien nie, maar dis ál wat ek sien. Ma.
Ma het kom kuier; stil-stil. Ma wat altyd gesê het: "Ag my kindjie, dit smaak Ma is mos maar 'n rolbos – kry nie rus op hierdie aarde nie." Van alle goed het Ma Maself in 'n rolbos gesien. Juis Má wat nie eers Ma se huis wou los nie. Ma se huisraad wat vier keer dorpshuis in die aftree-oord toe getrek het en drie keer terug huis toe; ons kaia toe, want "… dis my huis; dis waar ek bly, dis waar julle klein was; dis waar ons 'n gesin was; dis waar my onthou is, al is ek nou so alleen."
Die vierde keer se terugtrek ons kaia toe, was sonder Ma. Ma, die rolbos ... toe ingepak en toegeskroef in 'n houtkis.
Elf jaar terug was hierdie dae Ma se laaste dae. Elf jaar terug het Ma my twee weke voor hierdie tyd gegroet en vir my sag gesê Ma sal my nie weer nie sien nie. Ma het my vasgehou en ons het geweet daardie vashou moes hou vir die res van my aardse bestaan. Ek het gesê: "Dis reg, gaan rus. Ek is nou uiteindelik ok in my lewe."
Ek het gejok, maar ek moes … vir Ma se vrede. Ek was nie ok nie. Ek is nie. Sal nooit wees nie. Dit is 'n leemte, God weet, 'n verswelgende donker gat groter as die donkerste nuwemaan Karoonag. Dis elf jaar later en al wat verander, is dat dit elke dag langer raak en die verlange al groter. Die gat in die heelal word net nie kleiner nie; maak nie saak hoe ek dit probeer stop met derduisende kristalhelder herinneringe nie – Ma bly val deur daai gat.
Daar was 'n tyd dat ek skelm die gebrokenheid kon probeer verdrink in trane - liters water uit my oë, het dit gevoel. Die oopskeur van ruk en snik-klanke uit my binneste waar eens 'n hartklop galop het. Ure se alleenloop op die strand teen die skuimsoom van die see; doelloos soos 'n rolbos in die Karoowind. Die beeld van Ma se kuifie in die wind in die kis voor die kerk is ingebrand aan die skadukant van my kykers. God, hoe kan ek dit ooit vergeet. My suster se hulpelose, weeklaag en smagtingskreet: "Mamma, Mamma, Ma, Maaaa…", wat klank gegee het aan my eie gebrokenheid daardie dag voor die kerk. Ek onthou so bitter min van daardie tyd en tog weet ek daar is niks wat ek nie onthou nie; ek kan steeds net nie daarby uitkom waar dit in my brein gestoor is nie.
Maar elf jaar later kan ek Ma uiteindelik weer onthou – die skaamste glimlag; die sagste oë en die liefdevolste dienende hande.
En hier het Ma my vandag kom kry in die Groot-Karoo.
Ek voel die glimlag om my mond trek: vrede, want Ma het my kom vind. Ma is hier. Altyd in my hart, maar vandag op my werf.
Ma – my anker. Ma – my padpredikant by elke reg-of-verkeerd-vurk in die pad. Ma wat altyd so trots, regop, stoksielalleen by die kleinhekkie nog vir oulaas vir my gewaai het wanneer ek nogeens die vreemde gaan verken en verower het. Vandag salueer ek Ma hier op my werf – wat sou ek wees sonder myse rolbos-mammekie.
Sonder woorde vang ek elke sonstraal op sy plek
Sit dit neer so op my knieë terwyl my hand die grond skoonvee
Hierdie goud- en silwerdraad wat God vir ons van Bo neerlaat
My teken om te weet
sou jy die dag se breek vergeet
sal son se afgaan bly
Al is ons goue dae verby...
~Musiek: Lieze Stassen
~ Lirieke: Azette Wiesner
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’