WAKKERSTROOM NUUS - Bertus Burgers, ’n derdegeslagboer van Groenvlei, tussen Wakkerstroom en Utrecht, die nasionale beesboer van 2017, het tydens ’n onderhoud met die Graaff-Reinet Advertiser ’n aantal wenke met die beesboere in die koerant se verspreidingsgebied gedeel.
Burgers boer met bovelderbeeste en bedryf ook ’n skaapvoerkraal.
“Dis ’n feit dat veeboerdery die laaste paar jaar onder geweldige druk gegaan het. Oor die afgelope 30 jaar was die laaste twee jaar veral die moeilikste om die somme te laat klop.”
Elke boer moet seker maak dat alles binne die plaashek in orde is, en moet bepaal hoe winsgewendheid verbeter kan word. Boer jy met die regte raamgrootte koeie vir jou area?
Hoe lyk jou seleksiekriteria vir vervangingsverse? Is jou bestuur op datum om die maksimum hoeveelheid kalwers vir jou plaas te produseer? Boer jy met beeste of hou jy beeste aan?
Hoe lyk jou bemarkingstrategie?
Het jy opgevolg met die voerkraal wat jou kalwers laas jaar gekoop het oor hulle prestasie in die kraal? Op grond daarvan kan jy vir jouself n beter prys beding.
Aanvaar jy dat die Absa-prys of die AMT-prys die kalfprys is? Absa en AMT (African Meat Traders) publiseer slegs van beskikbare data. Hulle het nie die data van enige ander pryse nie.
Maak seker dat wanneer jy oor jou prys onderhandel, jy en die koper nie veilingspryse of Absa of AMT as riglyn gebruik nie.
Bek-en-klouseer
Dis ’n feit dat die meeste van die groot voerkrale ten spyte van Landbouprodukteagenteraad-regulasies nie meer op veilings koop nie, omdat die bek-en-klou-risiko ’n negetiewe invloed op veilingspryse het.
Behalwe die ondeursigtigheid in die hele proses, beïnvloed dit uitvoere ook nadelig.
Volgens buitelandse kopers het Suid-Afrika van die beste vleis ter wêreld. “Maar weens die feit dat ons nie ’n konstante bestelling vleis kan waarborg nie, as gevolg van die bek-en-klou-risiko, is SA nie hulle voorkeurverskaffer nie.”
Is die enting van die totale nasionale kudde nie dalk die antwoord nie?
Oman het nou ’n supermoderne slagpale in die woestyn gebou, wat elke dag 5 000 diere slag: 1 000 kamele, 1 000 skape en 3 000 beeste van 350 tot 550 kg elk. Al die diere word lewendig ingevoer.
Hulle wil nou graag met ons besigheid doen.
Maar dan moet die bek-en-klouseer uit die weg geruim wees.
Hoe lyk jou biosekuriteit? Gehalte kry altyd ’n premie. Wat kan jy doen om jou eenvormigheid en die gehalte van kalwers te verbeter?
Is jou veearts deel van jou span, of sien jy hom slegs as ’n uitgawe?
Hoe lyk jou woorde oor jou beesboerdery? Niemand gaan jou meer betaal as jy nie trots en positief oor jou eie produk is nie.
Buite die plaashek
Vraag en aanbod bly die grootste drywers van prys.
Die invoere van kalwers vehoog definitief die aanbod van kalwers, wat ’n negatiewe invloed op die prys het.
Voerkraal: vriend of vyand?
Dit is die grootste debat. Voerkrale is ’n onderneming, en net soos elke boer graag maksimum wins wil maak, so wil hulle ook.
Aanvaar dat die aankoopprys van kalwers ’n groot effek op hulle winsgewendheid het. Maak die voerkraal jou vriend.
Voerkrale produseer baie vleis in ’n kort tyd. Dit verhoog die aanbod van rooivleis.
“Moet ons nie met osse boer nie? Dit sal die aanbod van rooivleis verlaag, met ’n positiewe invloed op die prys. Minder goeie koeie aanhou en die osse uitgroei. Alle stelsels het wel voor- en nadele.”
Uitvoere
Dit klink dalk na ’n oplossing om die binnelandse aanbod te verlaag.
Indvidue sal nie sommer kan uitvoer nie. Uitvoerlisensies word polities beheer. Die getalle wat nodig is om behoueringsnitte vol te maak, is baie groot. Slegs groot voerkrale het tans die kapasiteit om te kan uitvoer.
Die verwerpte snitte hou ook die binnelandse prys onder druk.
Burgers glo die onderste draaipunt is verby. “Bly positief, beplan en werk saam,” raai hy aan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’