RUBRIEK - "Die bus kom nou-nou, vat julle piekniek en gaan wag vir die bus," was woorde wat ons gereeld gehoor het wanneer ons op Raasfontein gekuier het.
Net nou die aand by die wyksbiduur vra ds. Marius vir ons om ons herinneringe oor posbusse te deel.
Weliswaar onthou almal nie die (letterlik) rooi posbus wat elke week drie keer by die plaashek gestop het, die groot swaar leerpossak afgegooi en die volgende ene opgelaai het nie. Ouma het dan reeds verjaarsdaggeskenkies en posstukke in die sak gesit.
Ek moes as tweede oudste altyd die piekniek dra, want ousus moes die possak dra. Die stappie af pad toe was 'n entjie vir 'n vyfjarige en 'n sewejarige, maar dit was alles die moeite werd.
Onder by die plaashek, het ons ons piekniek uitgepak. Kweperlekkers, droë perskes, gemmerkoekies, biltong en dalk 'n vars vrug - 'n heerlike lafenis terwyl ons wag.
Wanneer die rooi bus stop, het ons meesal vir ouma en oupa vreugde saamgeneem huis toe. So af-en-toe was daar ook 'n telegram in met slegte nuus.
Die grootste lekkerte was die briefies wat ons by ouma kon skryf, en met die possak instuur dorp toe vir ons ouers. Die busse bestaan lankal nie meer nie, en die van ons wat dit onthou, raak al hoe minder.
By ons nuwe huis in die dorp het ons 'n posbus gehad waar die posman op sy fiets elke dag briewe ingeskuif het. Om die hoek was daar 'n groot rooi posbus, waar ons briefies kon gaan pos, as ons klaar seëls daarop geplak het. Later jare het ons liefdesbriewe grens toe ook daar geland. Pakkies kon nie in die rooi posbus gaan nie, en ons moes afstap poskantoor toe om dit te gaan pos. Sommige pakkies wat grens toe moes gaan, het teruggekom omdat die soldaat alweer tuis was.
Toe ek as jong boervrou hier op die plaas kom woon het, het ek vir die eerste keer die leemte van my eie posbus in die tuin ervaar.
Skielik kry ek net een keer 'n week pos, wanneer daar Sondae na kerk pos uitgehaal word by nommer 118 op die dorp. Niemand anders kan jou pos vir jou bring nie, want jy het die sleuteltjie.
Sedert e-posse aan bewind gekom het, is daar niks lekkerder as om 'n lekker lang brief te kry waarin al die jongste nuus gedeel word, en dan kan dit ook sommer dadelik beantwoord word.
As korrespondent het hierdie nuwe instelling ook my hele werkswyse verander. Vroeër jare het ek op 'n Vrydag my week se foto's vir die koerant op 'n filmrolletjie ingegee by die apteek vir ontwikkeling, en dan 'n volle week, tot die volgende Vrydag gewag om te sien watter foto's bruikbaar is.
Dan word die beriggies op my piepklein draagbare tikmasjientjie getik, in duplikaat en dubbelspasiëring. Saam met die foto, waarop die onderskrif agterop geskryf is, word dit in 'n koevert Maandag ingegee by die koerantkantoor om die daaropvolgende Vrydag in die koerant te verskyn.
Dit wil sê, die nuus was al drie weke oud voor dit verskyn het. Deesdae is lesers so bevoorreg, hulle kry die nuus dikwels binne sekondes na dit gebeur het.
Dit maak die lewe vir verslaggewers, joernaliste en korrespondente makliker, maar ook moeiliker, want almal is mos deesdae joernaliste en plaas alles aanlyn.
Geniet jou WhatsApp se inboksie, want dis jou nuwe posbus, en dis besiger as wat enige van jou vorige posbusse ooit was. Maar wees ook versigtig, want wat jy daar gepos het, is wêreldnuus die oomblik wat jy die blou pyltjie gedruk het.
In die ou dae kon ons nog die poskantoor vra om die afsêbrief te onderskep as ons van gedagte verander
het!
Vryskutskrywer Teresa Opperman
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'