RUBRIEK - My Ouma-Hannah het graag ge-'spring clean'. Op daardie dag moes ons wyd hou, of heeltemal wyk. Want alles in haar groot plaashuis is uitgedra, uitgewas, skoongemaak, kussings van banke is afgetorring en gewas en almal wat kon skrop, skuur en blink maak was doenig op die twee stoepe van die huis.
Gordyne is afgehaal, los matte is uitgedra, en niks is teruggesit voor dit nie silwerskoon was nie.
Terwyl die huis dolleeg was, en heerlik weergalm het as ons vier dogtertjies daar in die gange vir mekaar eggo-boodskappe gestuur het, is die houtvloere geskrop, en met 'n oliemengsel ingesmeer en wanneer dit droog was, is dit met politoer bygedam en blinkgevryf.
Die spens is ook uitgepak en uitgeskrop met verskriklike sterk mengsels wat dogtertjies se asem laat wegslaan het, en die houtstoof is van hoek tot kant uitgeskrop, en agterna gepoleer dat dit blinkswart is. Daardie dag was dit 'buite-op-die-stoep' eet dag. Kouevleistoebroodjies- en gekookte eiersdag met yskoue gemmerbier, want dié ete is al die vorige dag voorberei.
Vir my was die heel lekkerste uitpakplek my Ouma se naaldwerkkas. Want ek was toegelaat om knopies in botteltjies te sorteer, garetolletjies uit te pak en mooi op te rol.
Maatbande in Vaseline blikkies te pak en die spelde en naalde mooi in die speldekussing te steek, presies almal ewe hoog.
Ouma se laplaaie was 'n fees, en ek kon uithaal en alles van vooraf opvou, want terwyl ek opvou, is daardie laaie uitgepluk, uitgeskrop en met die mooiste papier uitgevoer, motbolle is ingegooi en dan kon ek begin terugpak.
En hier is dit nou lentetyd, tyd vir 'spring clean', soos ons oumas gedoen het. Ek wonder hoeveel mense pak die groot lentetydopruim nog aan met soveel woema en presisie.
Ek is beslis nie in staat om my banke buite die huis te kry, sonder dat 'n hele weermag my kom help nie.
Gordyne van 3m lank is ook nie binne my enkele vermoë om af te haal, te was, te stryk en terug te hang nie. My lentetyd skoonmaak verloop maar so deur die jaar, want al is alles nou vol stof na Augustus se winde bedaar het hier langs die rooi stofpad, is ek nie gebore in staat om die huis leeg te dra en binne 'n dag dit weer leefbaar te kry nie.
Dis alreeds vir my 'n opdrag om my winterklere alles mooi skoon te was, op te vou en veilig weg te pak, sodat die somergoed uitgepak kan word. En dis ook ten minste twee dae se werk, want wintergoed vat nog lank om droog te word. Ek gooi ook uit, natuurlik, maar ek gooi baie oordeelkundig uit en dit maak 'n rits redes op. Wie op die plaas kan wat gebruik? Is daar nood in die dorp waarvoor iets geskik sou wees? Is daar 'n knoop of skeurtjie, of 'n vlek iewers wat die kledingstuk ondrabaar maak, dan raak dit 'n skroplap, of land op my masjientafel. Ek is natuurlik baie lief daarvoor om die tyd van die jaar vir myself 'n mooi winterkledingstuk te maak, wat dan saam met die wintersklere weggepak word. Daar is mos nou niks lekkerder as om iets nuuts tussen die klere uit te pak, wanneer die herstydoorpakdag kom nie.
En hoe groot is die vreugde die dag na alles oorgepak is, want wanneer jy die volgende dag jou kas oopmaak, is alles bont, vrolik en vars en is jy sommer weer lus daarvoor.
Ek glo Ouma-Hanna het van daardie gevoel gehou wanneer sy die oggend, na die groot skoonmaak, by haar kamerdeur uitstap, en sy weet al die gordyne is skoon, en gestryk, al die borde en kaste en matte en laaie en rakke en plafonne en ligte en stoepe is bygedam en blinkgepoets.
Dalk kort ons gedagtes ook so 'n 'spring clean'!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’