KAROO NUUS - Die vreemdheid van ingehoktheid in jou eie woning alleen of saam met jou huismense is vir eers verby, maar grendeltyd self is nog lank nie klaar nie!
Jy sal agterkom jou eie emosies ry wipplank en as jy bevoorreg is om saam met ander mense in jou huis die grendeltyd te kan deel, sal jy agterkom elkeen gaan deur verskillende emosies.
Frustrasie, geïrriteerdheid, hopeloosheid, bekommernis, spanning of sommer net ’n algehele gevoel van “af” voel, fluktueer in ons gemoedere.
Dis heeltemal te verstaan. As jou huismense jou teen die mure uitdryf en jy het nêrens om heen te gaan nie, kan dit tot geweldige frustrasie lei.
Daar is ook ander faktore vir hierdie frustrasies en irritasies: onsekerheid oor inkomste, werksvooruitsigte, gesondheid, siekte en die dood. Verskeie mense wonder of hulle nog ’n werk met inkomste gaan hê na die grendeltyd en die ekonomie wat op ’n roller coaster is.
Selfs mediese personeel, polisie en ander dienste het elk hulle eie uitdagings en bekommernisse. Jyself kan ook wonder: “Wat as ek of een in my gesin die siekte kry?”
Vir die jongmense is dit ook ’n nuwe ervaring. Ek kan my net indink hoe ’n tiener moet voel. Ingehok saam met sy of haar ouers vir weke aaneen. Dis seker die ergste nagmerrie vir elke tiener.
Kleuters wil kreatief besig gehou word en gun dalk hulle ouers nie baie alleentyd nie, wat ekstra spanning kan meebring, veral as hulle nog nie kan verstaan as pa of ma moet nee sê nie.
Daar is verskeie maniere wat ons hierdie grendeltyd kan hanteer. Party spandeer ure aan skermtyd. Skermtyd is ‘n welkome wegkom uit die realiteit van ingehoktheid.
Die gevaar daarvan is dat te veel skermtyd, oor ‘n lang tydperk, depressie kan veroorsaak.
Ander rebelleer teen die grendeltyd en maak of hulle bo die wet is. Ons hoor van of sien selfs mense wat gaan draf, met hulle honde gaan stap, gaan kuier en rondry asof grendeltyd net iets in ‘n storieboek is.
As kinders sien dat hulle ouers nie hou by die reëls nie, stel dit ‘n baie swak voorbeeld vir hulle en hulle toekoms. Learn by example!
Praktiese wenke vir die grendeltyd met jou kinders:
- Erken jou kind se emosies en aanvaar dat hulle emosies net so wipplank gaan ry soos joune. Kinders ervaar ook die onsekerheid oor die pad vorentoe. Jy kan gesiggies maak wat die verskillende emosies uitbeeld wat jou kind op hulle deur kan sit sodat jy kan weet hoe hulle voel en of hulle alleentyd nodig het.
- Moedig jou kind aan om uit hulle kamer te kom en buite te sit, balspeletjies te speel, buite take te verrig of tuin te help maak.
- Leer jou kind nuwe vaardighede aan: kook en bak (ongeag die kind se geslag). Moedig jou kind aan om ’n ete van hulle keuse vir die gesin te maak (met ’n resep wat hulle self geskies het).
- Doen fisiese oefening – hardloop om die huis, doen strekoefening of kry ’n video met joga of pilates oefeninge.
- Doen kreatiewe werk: verf of teken iets uit ’n boek. Leer jou kind brei, knope aanwerk of naaldwerk, indien jy die vaardigheid het om dit vir hulle aan te kan leer.
- Leer jou kind dagbeplanning en tydsbestuur. Dit is ’n vaardigheid wat hulle vir die res van hul lewe gaan moet kan doen. Laat jou kind hulle dag self beplan om ruimte te maak vir skoolwerk, sosiale tyd, aanlynspeletjies of fliek kyk, leestyd, etes, buite-tyd, badtyd, ens.
- Hou ’n gesinsfliekaand, waar lede in die gesin beurte kan maak om ’n fliek te kies.
- Speel bordspeletjies of dink sommer julle eie kreatiewe speletjie uit.
As jy agterkom jou kind (of iemand in die gesin) onttrek heeltemal, raak baie negatief en neem nie meer deel aan die gesinsaktiwiteite nie, sal dit goed wees om met jou kind (of gesinslid) te gesels en te probeer vasstel of dit die grendeltyd is wat te veel raak, of wat presies die probleem is.
As jy bekommerd raak, kontak dan ‘n berader of sielkundige wat die nodige vaardigheid het om jou en jou kind deur hierdie grendeltyd te begelei.
Dr Ben van Tonder is leraar by NG Graaff-Reinet en het sy doktorsgraad verwerf in Praktiese Teologie en Prediking aan die Universiteit van Pretoria. Sanet het haar BEd (SFET) graad verwerf aan UNISA en is tans besig met Honneurs in Toegepaste Sielkunde.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'