RUBRIEK - Boervrou Anneke Botha is ’n voormalige onderwyser van Middelburg.
Dié tuisbly-ma kan toor met woorde, dus deel ons elke ander week haar verhale.
Lekker lees:
Ek en Outjie is die jaar agt jaar getroud. Ons het ‘n paar jaar eers uitgegaan en toe hy my vra om sy vrou te word was die antwoord verseker ja, met één voorwaarde: dat my voetsole nooit Suid-Afrika permanent sal verlaat nie.
Ek is maar 'n ou huishen en is baie geheg aan my familie en ons hartsvriende.
Ons familie is ook deel van die emigrasie statistieke van Suid-Afrika. Switserland, Amerika en Australië is vir ons oopgesluit deur naby familie wat reeds 'n hele paar jaar daar woon.
Net nou die dag nooi 'n hartsvriendin my om aan te sluit by die Faceboek-groep #imstaying. Aan die begin het ek net so oor die stories geblaai, maar nou kan ek nie wag om in die aand op die bank te gaan lê en elke storie te lees nie. Dis my positiewe inspuiting na elke dag.
So word ek gekonfronteer met die vraag: hoekom wil ek hier bly? Toe ek daaroor begin dink besef ek skielik dat ek nie eintlik weet hoekom ek wil bly nie, maar wel hoekom ek nié wil gaan nie. My ander pa sal sê dis ses van die een en 'n half dosyn van die ander.
Ek wil nie gaan nie, want ek sien die verlange in my mense se oë, lywe en praat. Ek sien dit in my kinders; hulle mis dit om vakansies saam met hul niggies te kan speel.
Yes en no en happy birthday is hoe ver hulle kommunikasie met mekaar strek. Ons voel die gemis op verjaarsdae en groot dae. Tegnologie is wonderlik, maar dit kan net nie die warmte van 'n lekker drukkie en die gesels oor 'n koppie koffie vervang nie.
Wat ek wel weet is dat ons wat hier bly senuwees van staal het. Uitgebult soos Superman se spiere. Ons leer hoe om spaarsamig met water én met geld te werk. Ons leer dat ons mekaar nodig het, een hand was die ander.
Ek weet daar is 'n toekoms vir Boeta en Sussa hiér, want ons gaan dit self skep.
So daarom #blyekenmygesinnéthier.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'