STEYNSBURG NUUS - Daar is altyd 'n doenigheid by die Marais Steyn Huis vir Bejaardes, maar met Kersfees om die draai gaan dit met ’n spesiale joligheid gepaard.
Daar word elke week iets lekkers vir die inwoners opgetower en die bestuurder, Agneta Bekker, sê dit is 'n fees om hulle vreugde te aanskou.
Kuns
Kunsklasse word steeds een keer per week aangebied, maar het so gewild geword dat dit verskuif is van 'n privaat kunskamer na die tehuis se ruim sonkamer.
Groot vrolikheid heers, met velle tekenpapier wat rondfladder, kryte, verf en kwasse wat uitgeruil word - alles gepaardgaande met 'n vrolike geskerts.
Daar word elke maand foto’s van die skilderye gesirkuleer en daar is elke maand ’n nuwe tema.
Suster Coyla Southey vertel dat die tehuis 'n voorraad roomys vir die somer aangekoop het, en dat daar vir die inwoners geen groter bederf is as ’n roomyshorinkie nie.
Tuin
Inwoner Ina Sterrenberg is in die wolke oor die mallemeule van kleur wat nou in die tuin by Marais Steyn blom.
“Ek bring graag tyd voor my kamervenster deur, want ek is ’n ywerige breier en ek skilder ook graag, maar vandat al die rose begin blom het, kan ek myself nie keer nie, ek wil net in die tuin kuier,” sê sy.
Elke sentimeter van die groot tuin is beplant, want die inwoners het die geleentheid om vir hulself ’n tuintjie aan te lê.
“Deur die jare het vorige inwoners ywerig tuingemaak, en rose en struike geplant wat ons steeds elke jaar groot vreugde gee,” vertel Bekker.
“Rose in alle kleure is aangekoop, en blom hierdie jaar in oordaad want daar was geen waterskaarste nie, en dit bring die inwoners soveel vreugde!”
Koek en tee
Die tuisnywerheid in Steynsburg bederf inwoners elke maand met heerlike koek en tee. “Maar dit word nie afgelewer nie - diegene wat wil koek-en-tee, moet stap na die tuisnywerheid.
Dis ’n lekker stappie, en ’n stewige opdraande terug,” vertel Suster Cathy Koeberg, wat die optog elke maand gadeslaan, “maar ons inwoners kom met soveel lewensvreugde terug dat ons hulle net op die skouer kan klop!”
Sangoptrede
Die grootste bederf was egter ’n optrede deur sangers Lourens Feuth en Chesca van Zyl op 20 November in die groot sitkamer.
Vir inwoners Nellie Feuth en haar man, Hannes, was dit 'n wonderlike voorreg dat hul seun by die tehuis kom sing het.
“Hoe trots was ons nie oor ons seun wat vir ons en die ander inwoners kom optree het nie,” vertel Nellie.
Die tehuis bedank vir Brynley Evans, wat plesierige musiek en saamsingliedjies gespeel het, asook Douw Kruger en Martin Potgieter, vir hul bydraes tot die suksesvolle middagkonsert.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’