EDITOR'S COLUMN - Oor presies 'n week is dit Valentynsdag, dan vier ons 'n bietjie die liefde.
Wat verwag jy vir Valentynsdag? Die son, maan en sterre? Rose, sjokolades en oulike teddiebere? Dalk wil jy 'n kersligete, romantiese musiek en liefdesbriefies hê.
Alhoewel die hart-oor-verstand gekommersialiseerde Valentynsdag nie werklik een van my gunsteling "vakansiedae" is om ses weke die nuwe jaar-in te vier nie, moet ek bieg dat ek nogal uitgesien het om dié enetjie te skryf.
Oor die jare heen het ek en my man glad nie 'n gewoonte daarvan gemaak om mekaar op dié dag van Sint Valentine buitensporig te bederf nie, ons herdenk dit egter steeds elke jaar soos ons die eerste een 14 jaar terug gevier het - met 'n lekker pizza en 'n bottel sjampanje... dit het al ietwat van 'n tradisie geword.
En ten spyte daarvan dat die dag my jaarliks herinner aan my gebrek om te voldoen aan my nuwejaarsbesluit om my verbintenis tot die kweek van goedheid van hart, te hernu, het ek ten minste 'n goeie storie'tjie om te vertel, so hier gaan ons…
As ek reg onthou was ek in Graad 9... en dit was Valentynsdag.
'n Mens is maar gewoond daaraan dat jy nie eintlik iets kry nie, maar tot my verbasing het daar wel iets daardie dag gebeur.
Toe pouse die dag by die skool aanbreek haal ek my kosblik uit en... weliswaar, daar in my kosblik is 'n brief - heel duidelik 'n Valentynsbriefie en soos gewoonlik onder aan geteken met "Your Secret Admirer".
Ek het vir die res van die dag heel ingenome met myself rondgeloop, met 'n hart wat warm klop, net om later te ontdek dat die briefie my ma se goeie daad van die dag was.
Bygesê, sy het dit met 'n baie goeie hart gedoen, met geen bedoeling dat ek moet dink dit was van 'n knap kêreltjie af nie, dit was maar wensdenkery aan my kant.
Die gebeurtenis het egter 'n blywende indruk op my gelaat - dat my ma se idee om my spesiaal te laat voel met só 'n klein daad dalk op die ou einde die eintlike doel van Valentynsdag behoort te wees... om klein goedjies met 'n goeie hart vir iemand te doen, net om daardie persoon effe meer gewaardeerd te laat voel.
Maar ek hou daarvan om te dink dat ek nou weer iemand is wat die klein goedjies in die lewe waardeer... soos die briefie in die kosblik... of pizza en 'n glasie sjampanje.
Ons almal voel die begeerte om lief te hê en liefgehê te word, aan te sluit en omhels te word en om te behoort.
Ek dink egter dat die belangrikste ding om saam te geniet, is die sagtheid van 'n goeie hart. Daar is niks beters vir iemand as om te weet jy waardeer hulle nie.
En dis nooit te laat nie, dit mag Valentynsdag wees, maar elke dag van die jaar is goed genoeg om die liefde te vier.
"Nemo est qui non amet": "Die liefde is almal se lot, en wie die liefde uitroei, roei die wese van die mens uit" - Die Heilige Augustinus.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'