RUBRIEK - Hoe gereeld bly jy veiligheidshalwe tuis omdat die straat nat is, of die teerpad nat is?
Net boervroue wat kilometers grondpad moet ry om iewers uit te kom, sal saam met my kan praat.
Stel jou voor, 40 km-grondpad, voor jy enigsins op 'n teerpad kan klim, weliswaar met 'n sug van verligting en 'n dankgebed. Na reën verander hierdie roete in 'n nagmerrie.
Glip en gly, roei en stoei, bid en glo, is die enigste manier om jou bestemming te bereik. Maar sedert ek die 18 jaar van skoolkar-ry agter my gesit het, het ek besluit om nooit in my hele lewe weer willens en wetens op 'n nat grondpad te ry nie.
Vroeër jare het ons nog met 'n motor gery, maar vroeër jare was die pad ook beter in stand gehou. Deesdae ry die mense wat 2 km-grondpad moet ry, 'n sportnutsvoertuig van 'n Duitse fabrikaat.
Maar glo my, die Duitsers ken nie ons paaie nie. Vier-by-vier is al manier. Daar is ook nie regtig enige Duitsers wat rooi klei en skali ken, en weet hoe daardie rooi modder kan saampak en 'n voertuig se hele ratkas, remstelsel en stuurstelsel in 'n oogwink kan vernietig nie.
Ek kan vertel van gate, met of sonder water, wat skokbrekers en bande vernietig. En dan is daar die diep spore wat een of ander onbesonne swaarvoertuigbestuurder met sy bees, skaap of lusern in die nat kleipad ingepers het, sodat ons wat gereeld hier moet ry, vir die volgende 12 maande moet hou in sy diep spore. Dié spore gooi jou heel van jou koers af. As jy hulle skeef tref, is dit ook net jou spore wat agterbly.
Dan is daar ook nog sinkplaatpad. Nou 'n sinkplaatpad is die een wat jou nersderm laat terugspring as dit 'n plan gehad het om te verloor. My ouma het eendag, na 'n sinkplaatrit gesug, "Dankie my kind, nou is alles weer teruggeruk waar dit moet wees!"
Moderner voertuie het deesdae so 'n rooi motortjie op sulke glip-gly spoortjies op die instrumentpaneel wat lyk of 'n dronkie aan die stuur is. Wanneer jy oor hierdie glibberige paaie by ons ry, sien jy gedurig daai rooi motortjie voor jou.
Die vervaardigers het dit goed gedink om die bestuurder, wat bars om sy kar op die pad te hou, se aandag af te trek, en vir hom 'n flitsende motortjie op die skermpie te wys.
En dan gaan dit boonop gepaard met 'n irriterende alarmpie wat jy nie kan stilmaak nie.
Plaas dat hulle eerder die voertuig beter bou sodat dit makliker is om in die pad te hou.
Sedert ek die 60 perk oorgesteek het, en ek praat nou nie van die spoedgrens op grondpaaie nie, bly ek by die huis as dit enigsins meer as 14 mm gereën het. Ek slaap ook maklik oor, want ekself ry nooit weer op 'n nat grondpad nie.
Soos die genade dit bestem het, het ek 'n wederhelfte met geen respek vir 'n grondpad nie.
As drywer in sy weermagdae, het hy immers talle soldate tussen landmyne deur by hul onderskeie ruitverwysings afgelaai, sonder enige teëspoed. Vir so 'n rit op 'n gladde, glyerige modderpad saam met hom, tref ek deeglik voorsorg. 'n Calmette-pilletjie vooraf, 'n indringende gebedsversoek, 'n besoek aan die toilet, en iets soets, vir die skokke wat ek dalk moet hanteer.
En, tot op hede het hy my nog altyd veilig oor die 40 km-grondpad vervoer, of dit nou nat, glad of horingdroog was. Pure genade.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’