RUBRIEK - Ek loop met 'n beswaardheid in my rond: soveel terugslae, so dikwels ... soveel onreg, nyd en venyn.
Nie noodwendig in my eie lewe nie, maar in die algemeen. Ek vra oom Klaas hoe hou hy dit uit – immer vol hoop en rustig.
Sy antwoord: "3%-skade, Boeta."
Hy steek sy pyp aan en kry daai vér terugkyk-kyk: "Sit, dan vertel ek vir jou 'n storie.
"In die voorjare, toe ek nog 'n snotkoppie was, plant my ma-goed katoen. Daai tyd was katoen die ding om te plant – riskant en arbeidsintensief, maar met potensieel 'n goeie opbrengs. In 'n tyd toe vroue skaars stemreg had, het my ma, vrou-alleen in 'n manswêreld, sélf geboer. Nou, dit alleen was klaar 'n daaglikse opdraande stryd, né... sy's nie aangekyk nie, want 'n vrou van statuur moes binnenshuis wees of glinsterend komplementerend aan 'n man se sy; beslis nie 'n matriarg wat persoonlik die voorste man-boere onder die tafel in boer nie. So, verstaan mooi die agtergrond: my ma WAS 'vrou van statuur' - so goed soos Sophia Loren en Grace Kelly, maar sy het met dieselfde trots, ywer en toewyding langbroek aangetrek, kappie opgesit en self in die landerye geskoffel en geoes ook. Gewis nie 'n maklike of gemaklike lewe nie en allermins een van gelykheid of sonder diskriminasie.
"Ewewel, sy plant toe katoen en daai katoenplantjies kom op soos duwweltjies ná die eerste lentereën. Jong, MOOI, hoor jy vir my. In gelid soos soldate staan hulle, een meter rye uitmekaar. Mettertyd word hulle met die hand uitgedun tot enkelplantjies 20 cm uitmekaar per ry. Onthou nou: jy praat van so 70 000 plantjies per hektaar wat bly staan. Dis dae en dae se werk. En so kry hulle water en voeding presies volgens skedule.
"En toe kom die hael.
"Wat 'n onheilsmiddag was dit nie. Ons het die storm gesien kom - dis mos hoe hael maak - hy kom in so 'n wit gordyn aan. En dan hoor jy hom soos 'n trop buffels voordat hy by en oor jou begin val. Buite op die grasperk gestaan en kyk hoe die haelstorm naderspoed. My ma - snaargespanne - en soos die storm naderkom, het sy soos 'n vasgekeerde wilde dier geraak: hoe beskerm jy landerye vol weerlose plantjies, elk skaars 12 cm hoog en boonop pas uitgedun vir optimale groeiruimte?
"Toe die eerste haelkorrels val, knak sy in die knieë, draai om huis se kant toe en sê skaars hoorbaar: 'Bid. NOU moet ons loop BID'. En hoe het ma nie deur daai storm gebid nie.
"Die hael was skaars verby, toe is sy uit by die deur en sit die stuk in landerye toe om die skade te loop betrag. Wat 'n gesig ... In my dag des lewens sal ek dit nie vergeet nie. Wat die oggend nog die mooiste katoenplantjies in die distrik was, was net sulke mankoliek stokkies. Hier en daar was 'n geknakte stingeltjie met 'n blaar of twee nog aan. Daai land, so ver soos die oog kan sien, lyk soos 'n groen tapyt soos die blare afgeslaan is. My ma had nie woorde nie... sy het nie eers trane gehad nie; kon skaars asemhaal. Sy was die res van die dag netso verpletter soos die katoenplantjies.
"Ma het die volgende oggend 'n vlammetjie van hoop getroetel: sy het in die nag onthou sy hét mos darem die oes verseker! Daai middag ná skool het ek saam met haar deur die distrik gery, boere het mekaar besoek om te sien wie is erger getref en dan het hulle maar gesimpatiseer en mekaar moed ingepraat. Almal het gewag vir die assessor van die versekering, maar die oorwoë mening was dat my ma-goed die swaarste getref is.
"En toe kom die assessor.
"'n Jongman van die omgewing. Soos enige ander boer wou my ma hom vergesel na die landerye toe, maar hy keer dood – vrou hoort in die kombuis, onthou. Hy was skaars weg, toe kom hy terug met sy bevinding: 3%-skade. Twee keer in twee dae wat my ma in die knieë geknak het.
"Snotkop soos ek was, het ek die som ook gemaak en ook by die antwoord uitgekom: vroue moet weet om nie te boer nie. My ma het die klong hoflik bedank en hom afgesien. Ons het my ma die res van die dag nie gesien nie. In die dae wat gevolg het, het ek so om die kombuistafel se gesels gehoor van die een buurman se 70%-skade; die ander een 90%-skade. Ek was verstom dat AL die boere direk rondom ons dan meer skade as ons gehad het... volgens die versekeringsassessor. Maar niemand se plantjies het so sleg soos ons s'n gelyk nie.
"Vir amper 'n week ná die storm was my ma grafstil en die huis het gevoel asof dood daar ingetrek het. Toe kom ek een middag van die skool af en my ma-goed is doenig op die land soos ek gewoond was. Ek vra die aand en Ma sê dat God die Vader self sal sorg: 'Goed het Kwaad reeds oorwin – ons moet net aanhou om die pad van geloof te stap, my kind'.
"My ma was 'n uithalerboer wat soggens die son in haar landerye gegroet het. Maar van daai dag af was sy selfs meer toegewyd as voor die storm. Soos die weke maande geword het, het daai tingerige, geknakte katoenstokkies ontpop in stewige plante.
En ja, oestyd daai Aprilvakansie, toe haal my ma die distrik se rekordoes af, kwantitatief meer as 6 ton/HA en kwalitatief alles A-graad.
"Vir dekades daarná het my huismense verskil oor presies wat gebeur het: was dit werklik 'n wonderwerk, of was Driepersent (die assessor) eintlik alwetend akkuraat in sy assessering? Wat ek egter daar geleer het en wel weet: in elke terugslag; in elke belediging; in elke tenakoming; in elke venynigheid wat jy moet verduur, skuil net 3%-skade en 97%-kans vir 'n wonderwerk van oorkoming en 'n rekord-oes. Jy moet net maak soos Johnny Walker: hou aan om jou pad te stap. Go(e)d het Kwaad klaar oorwin."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’