Vergun my asseblief die geleentheid om as ouer van 'n Marlow-leerder, my dank uit te spreek teenoor u vir die berigte rakende Marlow soos geplaas in u koerant se aanlyn platforms.
Plattelandse skole is deurlopend besig om potensiële leerders te werf, maar 'n skool wat die plaaservaring en landbou-onderrig by uitstek bied, is nie oral beskikbaar nie.
Ek glo daar is talle boere in u omgewing wat ook oud-Marlow-leerders is, en wat vandag steeds trots is op die prestasies van Marlow en sy leerders. So ook, glo ek, is daar talle leerders wat graag sou wou boer na skool. Dit is aan hierdie leerders wat Marlow 'n heenkome bied. Hoewel Marlow 'n landbouskool is, word akademie hoog aangeskryf en is daar derhalwe ook talle leerders wat hulself in ander beroepe kwalifiseer nadat hul gematrikuleer het.
As Marlow-ouer wil ek u die versekering gee dat elke nuusberig wat deur Graaff-Reinet Advertiser op die Facebook-blad en webwerf geplaas word, deur inwoners uit ons omgewing gelees word. Hier word lankal nie meer in ons omgewing koerante afgelewer nie en ons moet ons derhalwe wend tot alle beskikbare nuus wat op sosiale media beskikbaar is. Ons val wel nie direk in die nabye omgewing van Graaff-Reinet Advertiser nie, maar omrede daar ook berigte in ons moedertaal beskikbaar is, is dit vir ons belangrik om hierdie berigte aan te stuur na talle ander boere en inwoners in ons en ander gebiede.
Baie dankie vir hierdie berigte, doen asseblief so voort.