LANDBOUNUUS - Alle landboupaaie loop hierdie naweek, 24 en 25 Oktober, na die Saai Karoo Landbouskou by die Laingsburg-sportgronde - ’n jaarlikse hoogtepunt vir landbou- en kultuurliefhebbers.
Die program sluit in 'n paneelbespreking deur dr. Ivan Meyer, dr. Theo de Jager, dr. Dirk Troskie met Heinrich Wyngaard as gespreksleier, asook 'n damesoggend met Amore Bekker.
Skougangers kan hul verder regmaak vir optredes deur W.G. Nel, TiNO, Wilbur en Jay, plus die Laingsburg Got Talent-kompetisie, Mej. Landbou en 'n volledige jeugprogram.
Dan is daar 'n veeveiling, tegnologie en landbou-innovasie uitstallings, 'n braaikompetisie en 'n gesamentlike kerkbasaar. Natuurlik is daar ook tientalle stalletjies en uitstallers.
Die skou word vanjaar vir die vierde keer aangebied en omdat die jeug en jong boere aktief betrek word, gaan dié landbouskou elke jaar van krag tot krag.
Die tema van die paneelbespreking eerskomende Vrydag, 24 Oktober om 14:00 in die J.J. Ellissaal op die Laingsburg-sportgronde, is "Landbou in die nuwe globale landskap - uitdagings en geleenthede".
Laingsburg is sowat drie ure se ry van George en Mosselbaai en sowat twee ure per motor vanaf Oudtshoorn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’