OUDTSHOORN NUUS - Die plakkate is teen die vensters, ’n ballon dryf in die lug
Deur die tralies van die stede het ons na die Klein-Karoo gevlug
Afrikaners raak plesierig hulle speel en wroeg en lag
Ek loop deur die strate van Oudtshoorn
Ek soek na Breyten Breytenbach
Dit is die eerste strofe van ’n lied wat deur KKNK geïnspireer is en nou, vir die eerste keer, by die KKNK opgevoer gaan word.
Albert de Vos, sy kitaar en sy bekfluitjie gaan gehore vermaak in die Biblioteeksaal in Oudtshoorn op 30 Maart om 10:00 en 31 Maart om 12:00.
Die Afrikaanse Leonard Cohen, noem sommige hom.
Albert, noem hy homself.
AD, noem sy vriende hom.
Wolfman, noem sy groupies hom.
De Vos is ’n uitstekende musikant wat al die verhoog met talle van die land se onafhanklike kunstenaars gedeel het. Nou bring hy die lied wat afspeel by die KKNK huis toe.
Oudtshoorniete, spits julle ore:
Ek dwaal in Jan van Riebeeck, raak verlore in Voortrekker
My Sarie Marais is in die wolke, dis nie van Witblits nie, dis iets sterker
Is daar ’n storm aan die broei ek weet nie, want die wind waai nou nog sag
Ek loop deur die strate van Oudtshoorn
Ek soek na Breyten Breytenbach
Die vertoning is getiteld Spierwitblues en Hennie Aucamp se dagboeke. Die eerste deel van die titel kom uit De Vos se humoristiese lied met dieselfde titel. En Aucamp? Die vertoning bevat talle passasies uit die dagboeke van Aucamp.
Hoekom Aucamp?
De Vos vertel: “Ek het Hennie Aucamp net eenmaal vlugtig in lewende lywe ontmoet. Dit was by die Woordfees ongeveer vyf jaar voordat hy oorlede is. Ek het vir hom gesê: ‘Ek lees jou stories soos mense die Bybel lees.’ En hy het met 'n ondeunde laggie geantwoord: ‘O, dit sal ’n fout wees.’ Ek het al drie Hennie Aucamp se dagboeke gekoop, Gekaapte Tyd, Allersiele en Skuinslig. Ek hou van die outobiografiese aard van dagboeke en meeste van my liedjies is ook maar outobiografies.”
Grepe uit hierdie dagboeke word voorgelees tydens die vertoning deur skrywer/akteur Izak de Vries.
En waar pas Breyten Breytenbach in? De Vos sê: “Daar is ’n ander skrywer uit Hennie Aucamp se era wat ek graag sou wou raakloop. Hierdie liedjie kom uit die laat negentigs.”
En nou gaan die liedjie KKNK toe, daar waar dit ontstaan het.
Die vertoning is in Afrikaans en ouerbegeleiding word aanbeveel vir die jongspan.
Meer inligting is op die KKNK se webwerf te kry.
Kaartjies kan veel goedkoper by webtickets gekoop word as by die deur:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’