OOS-KAAP NUUS - Werkloosheid in die Oos-Kaap word ’n wurggreep waaruit dié provinsie nie kan ontsnap nie, en die probleem bereik nou katastrofiese vlakke.
So het dr. Vicky Knoetze, LUR en leier van die amptelike opposisie in die Oos-Kaapse Wetgewer, op 12 Mei in ’n persvrystelling gesê.
Graaff-Reinet Advertiser het hierna met Knoetze gesels.
Oos-Kaapse werkloosheidsyfers kommerwekkend
Volgens Knoetze het die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname aan die lig gebring dat die wurggreep van werkloosheid op die Oos-Kaap verskerp het en dat die provinsie die ergste jaar-tot-jaar toename in werkloosheid in Suid-Afrika aangeteken het.
Daagliks sit talle werkloses onder bome, op straathoeke, by koöperasies en kruispaaie in die hoop dat iemand iewers vir hulle ’n werkie kan aanbied.
Knoetze sê dat werkloosheid in die Oos-Kaap met 5.3 persentasiepunte gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar - die grootste toename wat in enige provinsie aangeteken is.
Amptelike werkloosheid staan nou op 44.6%, die hoogste in Suid-Afrika, terwyl die uitgebreide koers tot 54.4% gestyg het.
“Die provinsie het ook die laagste absorpsiekoers in die land, teen slegs 28.7%, wat beteken dat inwoners van werkende ouderdom in die Oos-Kaap minder geneig is om in diens te wees as mense wat elders in Suid-Afrika woon,” het Knoetze gesê.
Werk die uitsondering eerder as die norm
Vir gesinne regoor die provinsie het hierdie krisis katastrofiese vlakke bereik.
Dit beteken leë kaste, onbetaalde rekeninge, jongmense wat tuis vasgekeer is sonder geleenthede, en gemeenskappe waar werk die uitsondering eerder as die norm geword het.
In nie-metrogebiede het die uitgebreide werkloosheidsyfer nou 63.1% bereik, wat die verwoestende omvang van landelike ekonomiese uitsluiting toon.
Praktiese provinsiale strategie nodig
“Die Oos-Kaap benodig ’n geloofwaardige en omvattende strategie vir werk- en armoede-intervensie.
’n Praktiese provinsiale plan word vereis om swak basiese dienslewering, die ineenstorting van plaaslike regering en die groeiende druk op die motorsektor, wat een van die provinsie se belangrikste ekonomiese ankers bly, aan te spreek,” het Knoetze gesê.
“Besighede kan nie uitbrei waar munisipaliteite nie betroubare water, elektrisiteit, paaie en basiese dienste kan verskaf nie.
Waar infrastruktuur faal, logistiek swak is en verskaffers nie betyds betaal word nie, sal klein besighede nie oorleef nie.”
Knoetze het gesê Oos-Kapenaars wil werk, maar die regering is nie in staat is om ’n ekonomie te bou wat hulle in werk kan absorbeer nie.
“Waar munisipaliteite ineenstort, infrastruktuur faal en beleggers vertroue verloor, verdiep werkloosheid.”
’n Geloofwaardige ommekeerstrategie is nodig vir mislukte munisipaliteite, ineenstortende infrastruktuur, ondersteuning vir klein besighede en die dringende risiko’s wat die motorbedryf in die gesig staar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’