Update
KAROO NUUS - Kort nadat biokinetikus Riana Pretorius (26) van Gqeberha Donderdagnag, 23 Maart, veilig gevind is na sy vir 'n week deur haar ontvoerders aangehou is, is 'n bekende gesin in Maclear se lewe totaal ontwrig toe hulle 24-jarige seun, Hilton Wicks, 'n sakeman van die dorp, Vrydag 24 Maart ontvoer is.
Hilton is om 04:45 by sy huis ontvoer en is drie dae later, op 27 Maart om 01:15, deur sy ontvoerders afgelaai by die Keibrug buite Maclear.
Sondagaand, 26 Maart, is 'n 40-jarige sakevrou van Gqeberha by haar onderneming ontvoer, vasgebind en in 'n huis in die stad aangehou.
Sy het dit egter Maandag reggekry om haarself los te wikkel en kon oor die muur na die bure ontsnap vanwaar sy haar familie gekontak het.
In Wicks se geval is daar 'n noodroep uitgestuur om sy foto op sosiale media te versprei sodat mense op die uitkyk kan wees vir hom en sy ontvoerders, maar 'n paar uur na sy ontvoering het die familie gevra dat sy foto en alle mediaplasings oor sy ontvoering verwyder word.
Dit was egter heeltemal te laat en absoluut onmoontlik aangesien sy foto en ontvoering toe reeds duisende kere op sosiale media en amptelike nuuspublikasies gedeel is.
1 000 ontvoerings per maand
Ontvoerings in Suid-Afrika is deesdae 'n algemene verskynsel. In 2022 is daar gemiddeld elke maand 1 000 ontvoerings aangemeld.
Waar mense ontvoer word, veroorsaak dit dikwels onmeetbare paniek in 'n gemeenskap, en die slagoffer se geliefdes ervaar uiters hoë vlakke van stres en radeloosheid.
Navorsing rondom ontvoerings dui daarop dat 'n ontvoering gewoonlik direk verband hou met geldnood by die ontvoerders, of waar minderjarige kinders ontvoer word, is ouers met uitstaande skuld aan dwelmhandelaars of dobbelbase, dikwels die teiken.
Geen ontvoering moet ooit in 'n sagte lig gesien word nie, want paniek by ontvoerders, en woede of bitterheid, of selfs gevoelens van wraak, kan veroorsaak dat ontvoerders kop verloor en buite verband optree teenoor diegene wat ontvoer is.
Ontvoerders ervaar ook na die ontvoering uitermate hoë vlakke van angs. Eerstens moet die ontvoerde veilig bewaar word, en tweedens moet so min moontlik mense weet van die ontvoering. Die persoon wat ontvoer is moet versorg en opgepas word.
Dit is egter deesdae bykans ondenkbaar dat enige persoon die spoed waarop inligting deur sosiale media versprei kan word, kan demp. Dit neem net een aanmerking iewers op 'n WhatsApp, en die inligting is bykans onmiddellik wêreldnuus. Foto's van sekuriteitskameras word teen die spoed van lig deur polisiekanale versprei, en dis heel moontlik hoekom beide die bogenoemde slagoffers in die nag in die donker afgelaai is waar kameras nie die aksie kon volg nie.
Ligpunt vir armes
Die een ligpunt vir diegene van ons wat elke pennie moet blink vryf voor ons dit uitgee, is dat ontvoerders ons darem nie sal teiken vir 'n losprys nie. Al is dit dan ook al tipe misdadiger waaroor wetsgehoorsame armes hulle nie hoef te bekommer nie.
Verwante artikels:
- Kidnapped biokineticist found unharmed
- Ontvoeringsdrama herleef
- Ontvoerde jongman 'n bekende sakeman in Macler
- Jongman van Maclear ontvoer
Hilton Wicks en vriendin Jamie Thompson presies 'n jaar gelede in Maart 2022. Foto: Facebook
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’