KAROO NUUS - Die ontvoeringsdrama in Gqeberha, waar die steeds vermiste 26-jarige biokinetikus, Riana Pretorius* presies 'n week gelede by haar praktyk in 'n voertuig gedwing is, het 'n vrou van Sterkstroom naby Queenstown, weer haar eie ontvoeringsdrama in 2018 laat herleef.
Boonop het dit ook die week bekend geword dat die dubbelkajuitvoertuig waarin die vrou destyds ontvoer is, nou verkoop word, nadat die Valke uiteindelik 'n verbeuringsbevel van meer as R100 000 vir die voertuig bekom het.
FOTOGALERY: Ontvoeringsdrama in Gqeberha word herleef
Dit gebeur nie hier nie
Die rustige plattelandse gemeenskap van Sterkstroom is op 6 Februarie 2018 tot stilstand geruk, nadat dit bekend geword het dat 'n geliefde inwoner, Denise Bartlett, toe 72, deur drie persone ontvoer is.
Twee van die drie ontvoerders het haar in haar eetkamer ingewag toe sy met haar kleindogter en dié se vriend by die huis kom. Een van die mans was gewapen en hulle het sykouse oor hul gesigte gehad.
Denise se dogter, Lindy Bartlett-Haggart, DA-raadslid van die Enoch Mgijima-munisipaliteit, het ook later opgedaag, waarna hulle haar aangerand, beroof, vasgebind en in die toilet toegesluit het.
"Hulle het gedreig om my ma te skiet as ons nie gehoorsaam is nie," vertel Lindy.
Denise is deur die ontvoerders in haar eie motor op die agtersitplek gelaai en ontvoer. André Marlon Cornelius (50), voorheen verbonde aan die Komani SAPD K9-eenheid, het bestuur.
Lindy Bartlett-Haggart gee haar ma, Denise Bartlett 'n soen na die eerste hofsaak in Sterkstroom.
Hy het later in die hof erken dat hy vantevore al probeer het om Denise se voertuig te steel. Haar motor, 'n Chevy Spark, is die volgende dag, 7 Februarie, 3 km buite Komani gevind.
SAPD-eenhede van Komani, Sterkstroom, die plaaslike misdaadrekordeenheid sowel as die gemeenskap, het aan die ondersoek deelgeneem.
Twee dae later, op Donderdag 8 Februarie, is 'n R3 miljoen losprys geëis, maar die polisie het toe reeds twee van die mans in 'n padblokkade vasgetrek en aan die ontvoering gekoppel.
Denise is Vrydag 9 Februarie, gevind. Hoewel sy fisies ongedeerd was, is sy na die Sterkstroom-hospitaal verwys vir mediese ondersoeke en verslae vir die hofsaak.
'n Jaar en ses maande later, op 8 Augustus 2019, is die drie ontvoerders in die Makhanda-hooggeregshof skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede, ontvoering en uitbuiting.
André Marlon Cornelius en Raymond Samuel Fillis (42) is gevonnis tot 16 jaar gevangenisstraf, terwyl die derde ontvoerder - 17 ten tyde van die misdaad - gevonnis is tot drie jaar korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens.
Die foto is geneem kort nadat Denise Bartlett in 2018 gevind is. Haar kleindogter (regs) en die kleindogter se vriend (links) was saam met haar toe die ontvoerders hulle oorval het.
DENISE BARTLETT - 5 JAAR LATER
Denise, nou 77, het hierdie week, vyf jaar na die ontvoering, haar hart aan Graaff-Reinet Advertiser oopgemaak en oor die drama gepraat.
"Aangesien ek onmiddellik geblinddoek was, het ek tred met tyd verloor. Op my voertuig se agterste sitplek kon ek nog vra hoe laat dit was. Ek was heel kalm tydens die ontvoering in my eie voertuig - ek kon agterkom dat ons na Queenstown [Komani] ry, en selfs toe hulle my buite Queenstown oorlaai in 'n ander voertuig, was ek steeds kalm.
"Toe ek vra waarheen hulle met my op pad is, het hulle gesê dat hulle direk na Cofimvaba sou ry en my dan na Mtata sou neem. Toe ons dus die aand teen 02:30 uitklim en ek met 'n karton toegemaak word, het ek geglo ons is beslis in Mtata, en ek het geweet dit gaan moeilik wees om my op te spoor. Ek het gevra hoe laat dit is, en dit was die laaste keer wat hulle my geantwoord het."
Denise Bartlett, vyf jaar na haar ontvoering op haar kinders se plaas by Molteno. Foto: Teresa Opperman
Vreemde visioene
Sy vertel dat sy tydens haar aanhouding vreemde, en soms ook wonderlike, visioene ervaar het. "Volgens die dokters en sielkundiges met wie ek agterna daaroor kon praat, was dit my liggaam se manier om die stres te hanteer.
Ek kon wel duidelik hoor wat rondom my aangaan. Ek kon byvoorbeeld 'n ketting hoor wat nadergesleep word, en ek het dadelik besef dat hulle my nou nie meer gaan skiet nie, maar dat ek gehang gaan word. Dit het later geblyk bloot die takke op die sinkdakkie te wees.
Ek het gehoor hoe iemand 'n body bag se rits oopmaak om my daarin te sit. 'n Ander keer was ek in 'n ten volle toegeruste teater in 'n hospitaal, sodat hulle my organe kon oes.
"Dae het gekom en gegaan, en ek het nie geweet waar ek was nie. Dokters noem dit die ICU-sindroom. Omdat ek nie meer my dae met dag en nag kon onderskei nie, het ek goed gehoor rondkruip, en 'n geweer hoor afgaan. En ek het soms mense rondom my ervaar, maar dit was alles goed wat my eie brein my wysgemaak het, meeste wat nooit daar was nie. Ek het soms gehoor hoe 'n vrou kinders help met huiswerk, en ek het ook kindertjies hoor lees."
Traumaties
Op dié stadium oorweldig die herinneringe van die nagmerrie-ondervinding haar en begin Denise huil. Na 'n wyle gaan sy voort.
"Ek het na die tyd vir berading gegaan - 'n paar keer. Aanvanklik was ek baie bang om iewers heen te gaan, en ek was ook vreesbevange dat mense my sou bekruip of dophou. Met die hofsaak het ek besef dat die oortreders my ontvoer het vir geld. Die hoofbeskuldigde het sy pakket by die SAPD ontvang, en dit redelik vinnig spandeer. Hy het blykbaar gedink my dogter is baie ryk en sou die losprys kon betaal. Dit het later aan die lig gekom dat hy my huis en my bedrywighede vir dae lank dopgehou het, terwyl sy vrou gedink het hy kuier by 'n ander vrou.
"Terwyl ek in die buitevertrekkie gevange gehou is, het die jong man van 17 my opgepas. Ek het hom later begin jammer kry," vertel Denise.
Dié verbintenis en empatie is tipies van iemand wat mettertyd so afhanklik raak van hul oppasser na 'n ontvoering, dat dit grens aan die Stockholmsindroom.
"Hy was regtig onder die absolute beheer van Cornelius wat voorheen in die polisie was, en hom met mag beheer het. Hy het vir my gesorg, ek kon toebroodjies kry as ek vra en hy het ook vir my koffie gegee. Maar op al my vrae was sy antwoord dat hy vir 'n sindikaat werk en dat hy my nie kan antwoord nie. Dit was ook duidelik dat hy Cornelius, en sy manier van doen, aanbid het.
"Op 'n stadium het ek 'n helikopter gehoor en het geglo dat daar 'n vreeslike opstand in die woonbuurt buite Mtata was. Ek het nooit eers besef dat hulle na my soek nie. Ek het mensestemme gehoor, en ek was vreesbevange."
Al die tyd die buurman
"Toe ek uiteindelik weer in die buitelug staan, sonder die blinddoek aan, het ek besef dat ek die hele tyd in die buitekamer aan die agterkant van die muur, wat die erf skei van my dogter se erf, toegesluit was. Dat ek vir die dae in duisternis net 10 tree van hul kuierplekkie onder die boom by die swembad gevange gehou is, en dat die kinders wat ek hoor lees het, my eie kleinkinders was.
"Ek woon steeds in my huis in Sterkstroom, en ek besoek my kinders gereeld waar hulle nou op 'n plaas buite Molteno woon. Hulle boer met appels en daar is vir my niks lekkerder as om die appels te verwerk en by stalletjies te verkoop nie."
Boodskap vir Riana Pretorius se ouers
"Ek het met yskoue rillings van julle ervaring gehoor. Al wat ek kan sê is dat julle jul geloof moet behou. My eie dogters kon aanvoel dat ek leef en naby hulle is. As ek sou kon roep, sou hulle my hoor. Maar ek kon nie roep nie, en die radio was pal aan. En as julle dogter later hulp nodig het, daar is hulp."
*Teen druktyd Woensdagmiddag 22 Maart het die soektog na Riana Pretorius steeds voortgeduur. Twee mans is op die dag van haar ontvoering, Donderdag 16 Maart, in hegtenis geneem en die voertuig waarmee sy ontvoer is, is ook gevind. Die soektog na 'n derde ontvoerder duur voort. 'n Losprys van R2 miljoen word geëis.
Riana Pretorius (26) is Donderdag 16 Maart in Gqeberha ontvoer en word sederdien vermis. Foto: Facebook
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’