KUGOMPO NUUS - Die KuGompo-streekhof in Mdantsane het bevind dat daar prima facie-bewyse is vir strafregtelike vervolging teen die eienaars van Enyobeni-taverne, Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu; hul sekuriteitsbeampte, Thembisa Diko; sers. Tabisa Kondile; en die senior inspekteur van die Oos-Kaapse Drankraad, Zuko Lizani, met betrekking tot die dood van 21 jongmense in dié taverne in 2022.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die uitspraak verwelkom.
Volgens Luxolo Tyali, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Oos-Kaap, is die geregtelike doodsondersoek na die dood van die jongmense - van wie die meeste tieners was - op versoek van die Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolging (DOV) van stapel gestuur nadat aanvanklike ondersoeke nie genoeg bewyse opgelewer het wat op strafregtelike aanspreeklikheid van enigeen gedui het nie.
Nadat getuienis van meer as 20 getuies aangehoor is, gelei deur staatsadvokaat Luvuyo Vena, het landdros Mvuyiselo Malindi beslis dat die sterftes veroorsaak is deur growwe nalatigheid aan die kant van die vyf betrokke persone.
Die hof het gehoor dat al die oorledenes dood is aan verstikking weens vergruising en ander beserings wat met ’n skarevergruising gepaardgaan.
Getuies, insluitend klante wat die aand van 25/26 Junie 2022 in die taverne was, het vertel dat die perseel oorvol was, met oorweldigende hitte en stampery en stotery.
Die landdros het bevind dat, ingevolge die Oos-Kaapse Drankwet, Vuyokazi Ndevu se verdediging - dat sy nie tydens die voorval teenwoordig was nie - nie kon standhou nie.
Die hof het verder bevind dat haar man, wat die bestuurder was, versuim het om die tragedie te voorkom nadat die sekerheidsbeampte hom ingelig het dat sy deur die onbeheerste skare jongmense by die ingang oorrompel is.
“Hy kon die hoofingang gesluit het, opdrag gegee het dat die musiek afgeskakel word, of selfs die polisie ontbied het, maar sy enigste prioriteit was die verkoop van drank,” het Malindi gesê.
Hy het ’n soortgelyke bevinding gemaak ten opsigte van Diko, wat die hoofingang onbewaak gelaat het toe sy deur die jong klante “oorrompel” is.
Die ondersoek het bevind dat beide die polisiesersant en die senior inspekteur versuim het om toe te sien dat Enyobeni aan die regulasies voldoen, ten spyte van talle klagtes oor oortredings deur die tavernebestuur.
“Indien toepaslike stappe lank voor die voorval geneem is, sou die sterftes nie plaasgevind het nie,” het hy gesê.
Malindi het gelas dat die rekord van die geregtelike doodsondersoek aan die direkteur van openbare vervolging voorgelê word, wat ná bestudering daarvan oor strafregtelike vervolging sal besluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’