OOS-KAAP NUUS - “Deesdae is uitdagings rondom vullis, rommel en besoedeling nie meer iets wat net in groot stede of op afgeleë stortingsterreine gebeur nie.
Dit is oral rondom ons, in ons straat, in die parkie, op die skoolspeelgrond.
Elke plastiekbottel wat rondlê, elke sakkie wat in ’n spruit of rivierstroompie of stormwaterpyp beland, en elke stuk rommel wat in ’n park rondwaai, beïnvloed die gemeenskappe waarin ons woon, werk en ons kinders grootmaak.”
Só sê Carien Bloem, hoof van AfriForum se onderwysprojekte, op 7 Julie aan die media.
Sy sê herwinning word dikwels gesien as iets wat “goed is vir die omgewing”, en dat dit help om stortingsterreine se las te verminder, besoedeling te verlaag, natuurlike hulpbronne te bespaar en by te dra tot ’n meer volhoubare toekoms vir mense en diere.
In die proses leer mense ook om verantwoordelikheid te neem vir die onmiddellike omgewing waarin hulle woon.
“Die suksesvolste gemeenskappe is dikwels dié wie se inwoners besluit om saam verantwoordelikheid te aanvaar vir die ruimtes wat hulle deel.
Wanneer mense hulle omgewing begin versorg, verander iets fundamenteel; trots vervang apatie, betrokkenheid vervang onverskilligheid en gemeenskapsgees begin floreer,” sê Bloem.
Hierdie beginsel is veral belangrik wanneer dit by kinders en jongmense kom. Gewoontes wat vroeg aangeleer word, word dikwels lewenslange gewoontes.
’n Kind wat leer om rommel op te tel liewer as om verby te stap, word ’n volwassene wat verantwoordelikheid aanvaar.
’n Kind wat verstaan waarom papier, plastiek en blikkies herwin moet word, dra daardie kennis oor na sy of haar huisgesin en beïnvloed dikwels die gedrag van maats, ouers en ander familielede.
AfriForum sê sy beplande Blink of Stink-herwinningsprojek met Herman die Herwinningsman gaan oor veel meer as die insameling van herwinbare materiaal.
Dit gaan oor die vorming van ’n nuwe geslag gemeenskapsbouers wat verstaan dat elke persoon ’n rol het om te speel in die versorging van hul omgewing.
In ’n land waar rommel en onwettige storting toenemend ’n probleem word, lê die antwoord dikwels in eenvoudige aksies.
’n Skoon straat, ’n netjiese skoolterrein en ’n gemeenskap wat herwinning ernstig opneem, is die boustene van ’n beter omgewing vir almal, want wanneer ons ons omgewing laat blink, help ons ook om die toekoms van ons gemeenskappe te laat blink.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’