Gallery Update Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Die familie van die vermoorde 19-jarige student, Junade Faulkner van Jeffreysbaai, is verpletter nadat borgtog van R1 500 aan die beskuldigde, Garick Koetaan, toegestaan is.
Faulkner is Maandag 8 Februarie in Santaville in Graaff-Reinet doodgeskiet.
Sy familie en vriende het Maandagoggend 15 Februarie voor die hof bymekaargekom om Koetaan se borgtogaansoek teen te staan. Faulkner se ouma, Carol Rezant, wat hom grootgemaak het, was buite die hof met die res van sy familie, asook sy ouer broer en twee susters, terwyl sy ma binne die hof was.
Gebroke en kwaad
Rezant het gesê die familie is diep seergemaak en gebroke oor wat gebeur het. Sy het gesê haar kleinseun het nie verdien om so te sterf nie. Hy was 'n stil kind wat altyd net grappe gemaak het en nie 'n mens vir moeilikheid was nie.
Fotogalery: Gemeenskap ongelukkig oor borgtog
Nadat die skare meegedeel is dat Koetaan borgtog toegestaan is, was daar duidelik groot ontevredenheid. Vyf polisievoertuie moes Koetaan vanaf die hof vergesel. Daar word beweer dat die polisievoertuig waarin Koetaan vervoer is, onderweg in 'n ongeluk betrokke was.
Graaff-Reinet polisiewoordvoerder, kapt. Bradley Rawlinson, het bevestig 'n saak van roekelose en nalatige bestuur is geopen en word ondersoek.
Kyk 'n video hieronder:
Familie en vriende het by die hof byeengekom om die beskuldigde se borgtogansoek teen te staan. Foto: Chriszanne Janse van Vuuren
Hartaanval
Faulkner se niggie, Bronlee Faulkner, het Dinsdagoggend bekend gemaak dat Faulkner se ouma, wat duidelik geweldig ontsteld was oor die hof se besluit om borgtog toe te staan, intussen 'n ligte hartaanval gehad het.
Bronlee sê die regstelsel het haar nefie in die steek gelaat.
Koetaan se borgvoorwaardes sluit in dat hy elke Woensdag by korrektiewe dienste moet aanmeld. Die saak is uitgestel tot 29 Maart.
Mense staan rond na afloop van die roudiens wat verlede Vrydagmiddag in Graaff-Reinet vir Junade Faulkner gehou is op die plek in Santaville waar sy liggaam gevind is.
Roudiens
'n Roudiens is Vrydagmiddag, 12 Februarie, op die hoek van Hibiscus- en Breëstraat in Santaville gehou waar Faulkner se liggaam gevind is. Die plaaslike diens is gereël deur Wilma Grootboom by wie Faulkner loseer het. Hy het pas sy studies by die East Cape Midland College in Graaff-Reinet begin.
Grootboom het gesê Faulkner was 'n liewe seun. "Ek weet mense praat net altyd goed van die dooies, maar in sy geval is dit die reine waarheid. Ek sal hom baie mis. Dit was vir my belangrik dat ons ook hier in Graaff-Reinet, waar sy lewe geëindig het, eer aan hom bewys."
Mense wat wil bydra vir die vervoer van Faulkner se liggaam na Jeffreysbaai en die begrafnis daar, kan me. Grootboom kontak by 074 404 6146.
Vorige arikels:
- Accused in student's murder granted bail
- Vermoorde studnet se familie sê gerugte volslae leuens
- New EC Midlands student murdered
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'