OOS-KAAP NUUS - Ondersoekers van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), algemeen bekend as die Valke, sal buite die Oos-Kaap moet reis om die ondersoek na die moord op Gqeberha-aanklaer Tracy Brown, voort te sit.
Volgens die Metro Crime Awareness Group in Gqeberha het aanklaer Cheswin King op 1 Junie in die Gqeberha-landdroshof ’n verdere terugverwysing van die saak versoek omdat die ondersoeke onvolledig was.
King het die hof meegedeel dat lede van die DPCI die provinsie as deel van die ondersoek sal moet verlaat.
Brown was ’n aanklaer verbonde aan die New Brighton-landdroshof in Gqeberha. Sy is op 31 Julie 2025 buite haar huis in Young Park voor haar lewensmaat doodgeskiet.
Die soektog na haar moordenaars het dadelik ’n aanvang geneem, en Simthembile Xungu is in Augustus 2025 in hegtenis geneem, terwyl Ayabulela Busakwe vroeg in September 2025 in hegtenis geneem is.
’n Derde beskuldigde, Thamsanqa Mthembu (33), is in Desember 2025 in hegtenis geneem ná wat die Valke beskryf het as ’n “moeisame, gekoördineerde, intelligensie gedrewe, interprovinsiale operasionele ontplooiing”.
Volgens Valke-woordvoerder ao. Ndiphiwe Mhlakuvana is Mthembu op 20 Desember op die N1 naby Bloemfontein in hegtenis geneem.
“Die polisielede het die inhegtenisneming uitgevoer nadat hulle geverifieerde operasionele intelligensie-inligting ontvang het wat aandui dat die verdagte probeer het om geregtigheid te ontduik deur uit die Oos-Kaap-provinsie te vlug,” het Mhlakubana gesê.
Die vierde verdagte, Buhle Mbini, was reeds in aanhouding by die St Albans Korrektiewe Sentrum toe hy met die saak verbind is.
Die hof het gehoor dat Mbini ook verbind word met ’n ander saak voor die New Brighton-landdroshof wat na verwagting by die Brown-moordsaak gevoeg sal word.
Busakwe staan ook reeds tereg op afsonderlike aanklagte van ontvoering, afpersing en mensehandel.
Volgens Valke-verslae vermoed ondersoekbeamptes die bestaan van ’n kriminele netwerk wat tussen Gqeberha se strate en korrektiewe fasiliteite opereer.
Al vier beskuldigdes bly in aanhouding terwyl ondersoekbeamptes hul ondersoeke voortsit.
Die saak is tot 20 Julie uitgestel vir verdere ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’