Update
KAROO NUUS - Die wrede moord op Thys van Niekerk op die plaas Uitkyk tussen Cradock en Hofmeyr, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Inwoners van die omgewing het na Van Niekerk begin soek toe sy voertuig die oggend van 29 Augustus, verlate by die Hofmeyr-Conway-kruising, gevind is.
Van Niekerk se liggaam is om 09:30 op die plaashuis se vloer aangetref. Volgens ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het hy veelvuldige steekwonde aan sy bors gehad.
Die verdagte het vermoedelik na die moord met Van Niekerk se Toyota Prado op die vlug geslaan, en is die voertuig later met twee pap bande by die kruising gevind.
Volgens ooggetuies, het die voertuig reeds die vorige dag, 28 Augustus om 18:00 by die kruising gestaan.
Soektog na vermeende moordenaar duur voort
'n Grootskaalse soektog na die vermeende moordenaar is Vrydag 1 September van stapel gestuur, en het die gemeenskap, en nie minder as 23 polisievoertuie na die verdagte begin soek.
Die hulp van helikopters en mikrovliegtuie is ingeroep asook die hulp van die gemeenskap, polisielede en sekuriteitsmaatskappye wat te voet na die verdagte begin soek het.
Op Saterdag 2 September is 'n kennisge-wing deur Nkohli uitgestuur, waarin gesê word dat Andrew Kroukamp (28) gesoek word vir ondervraging in verband met die moordsaak. Volgens iemand wat Kroukamp ken, het hy in die omgewing grootgeword en ken hy die area baie goed.
Kroukamp het 'n rits vorige veroorde-lings op sy kerfstok, waaronder inbrake, poging tot moord en diefstal. Tot op hede is geen arrestasie nog gemaak nie en is die verdagte nog op vrye voet.
In 'n poging om die gemeenskap by dié soektog betrokke te kry, het die sekuriteitsmaatskappy, Cradock Sekuriteit, 'n beloning van R10 000 uitgeloof vir enigiemand wat vorendag kom met inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagte.
Teen saktyd van die Advertiser op Woensdag het Spekboomberg-boerdery R5 000 by die beloning bygesit, Cradock Steers R2 000, Johan Erasmus R2 000, Wolsak Transport R2 000 en Action Town Cradock R1 000. Die bedrag sal uitbetaal word as die verdagte suksesvol gearresteer word.
Thys van Niekerk
40 jaar diens by SNA
Die maatskappy waarvoor Van Niekerk gewerk het, SNA Civil and Structural Engineers (Pty) Ltd. het die terrein besoek voordat Van Niekerk se liggaam uit die plaashuis verwyder is. Johan Swanepoel, direkteur van SNA vertel dat Van Niekerk vermoedelik twee keer in die bors met 'n mes gesteek is, waarna die verdagte sy keel afgesny het. Swanepoel en Van Niekerk het sedert 1988 saam gewerk. "Hy sal deur baie onthou word as 'n baie gelowige, hardwerkende perfeksionis wat erg baie vir sy medemens omgegee het, ons mis hom reeds."
Van Niekerk was deel van die padherbouingsprojek wat onlangs begin is om die nasionale roete, die R390, op te gradeer. Hy sou vir drie jaar in die plaashuis bly en dan aftree. Hy was ook van 1996 tot 2010 by die bou van die N4 Maputo Corridor betrokke, waarna hy op verskeie ander nasionale roetes in die Oos-Kaap en Vrystaat gewerk het.
Volgens Swanepoel is die terreinpersoneel van die kontrakteur sowel as kollegas binne die maatskappy wat saam met Van Niekerk gewerk het, erg geskok oor die gebeure en het sommige reeds mediese behandeling ontvang vir skok asook berading as gevolg van die moord.
'n Groot groep vrywilligers het Vrydag 1 September by die polisie aangesluit om behulpsaam te wees met die soektog na die verdagte van die moord op Thys van Niekerk. Foto: Nicola Jordaan
Gesinsman
Hy het op die plaas Lootsberg, in die Vrystaat grootgeword, en siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy het kort daarna by die SNA Civil and Structural Engineers (Pty) Ltd. begin werk. Sy dogter, Gerda Wagner, vertel dat hy by uitstek 'n gesinsman was, en dat hy baie lief vir sy kleinkinders was, want net hulle mag met sy groot versameling skaalmodelle van padboutoerusting gespeel het."
Wagner, sê dat haar pa se dood 'n massiewe verlies is. "My pa was 'n yster van 'n man. Hy was ons persoonlike gentle giant."
Enige persoon met inligting oor waar Kroukamp homself bevind, kan Lt. Kol. Mpuhlu by 082 319 8876 skakel.
Vorige artikels:
- Thys van Niekerk: Gerda vertel dat haar pa 'n goeie mens was
- Man wanted for questioning in Cradock farm murder
- Soektog na verdagte in moord op van Niekerk
- Vermoorde ingenieur sou na projek aftree
- Plaasmoord tussen Hofmeyr en Cradock
Die plaashuis op Uitkyk was afgesper. Foto: Johan Swanepoel
Die Toyota Prado wat by die kruising, met twee pap bande gevind is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’