RUBRIEK - Volgens die kalender is dit Sondag, 24 September, Erfenisdag. Ek loop vra vir Oom Klaas oor sy gedagtes oor díé dag …
"Jong, ek dog dan jy kom om Karoo-skaapwors te maak? "Kyk, ek het mos nou nie mens geraak met so 'n gedenkdag nie. So, ek kan myself nou nie regtig daar loop ingrawe nie. Ek vermoed erfenis was so deel van my sit en opstaan dat dit 'n elke dag se ding was; nie 'n een dag in die hele jaar hoogtepunt nie.
"Maar ek kan soort van begryp dat daar 'n behoefte is om een dag in die jaar te wy aan die herdenking van erfenis. Ek weet net nie hoe 'n nasie prakties in 'n land waarvan die bevolking gekompliseerd heterogenies is, 'n homogene begrip aan erfenis verleen nie. Is daar 'n reg en 'n verkeerd in erfenis? Ek sien jaarliks hoedat minderheidsgroepe vertel word dat hulle raakgesien word; dat hulle gemarginaliseer is en word, maar dat die of daai persoon of party of beweging dan nou juis vir hulle sal opstaan … om hulle erfenis te bewaar. Ek sien hoedat werklik finansieel gemarginaliseerdes op die dag – soos ander gedenkdae – onthaal word met 'n dag vol feestelike onbekostigbaarhede. En elke jaar is dit dieselfde: beloftes van 'sal nog'. Vir my het erfenis 'n HEEL ander betekenis. Ek lewe mos my erfenis daagliks. Vir my begin my erfenis by die huis en huismense waarin ek mens geword het; die mense wat my gevorm het; die waardes wat ek geleer het en steeds onderhou; die mens wat ek vandag is oor waar ek vandaan kom en die mens wat ek wil wees oor waarheen ek op pad is en wat ek as erfenis wil nalaat.
"So, jy sien, vir my is erfenisdag 'n diep dag. Dis 'n mooi dag, maar dis ook 'n moeilike dag. Dis 'n dag van stil introspeksie.
Dit is 'n dag van eerlike selfgesprek. Erfenis in sy diepste wese begin en eindig nie by feestelikhede, fênsie opgedolliede kleredrag vir een dag of geboue of monumente nie.
Erfenis is vir my die somtotaal van wie jy is, wie jy wil wees en wat jy wil nalaat. Erfenis is soos wortels van 'n boom: sonder wortels is groei beperk en uiteindelik gedoem. Hoe kan jy 'n toekoms sonder 'n verlede hê? "En ek reken nogals as elke individu hulself nie eerstens beskou as een van die kleure in die reënboog nie, maar eerder as 'n enkele stofpartikel op 'n gegewe plek in 'n gegewe orde tussen miljoene ander stofpartikels - EN elkeen maar net die ander stofpartikels om hulle ag, dan kan ons nasie nogal regkry wat ons nog altyd was en sou kon bly: 'n perfekte reënboog waarin een kleur nie belangriker of minder belangrik is as die ander kleure nie. Want die reënboog begin nie by sy kleure nie; dit begin by individuele stofpartikels saamgevoeg en gerangskik om 'n kaleidoskoop van komplimenterende kleure te vorm." Oom Klaas slaan met sy twee handpalms op sy knieë, kyk na die reënboog in die spreiers se sproei op die gras en sê: "Jy het gekom om te leer Karoo-skaapwors maak, laat ons loop begin - daai outydse wors het hom vanmelewe nie self gemaak nie en hy maak homself vandag nog nie. Dis nou ek en jy wat die tradisie moet onderhou en voortsit."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’