TUINROETE | KAROO NUUS - “Stories moet deel wees van ons DNS, anders gaan ons algemene kennis, ons woordeskat, en selfs ons menswees daaronder ly,” meen dr. Nadia van der Merwe, ’n Afrikaansonderwyser by Helpmekaar Kollege en voormalige dosent aan die Universiteit van Johannesburg.
Stories is natuurlik opgesluit in boeke, en die sleutel tot die ontwikkeling van klein boekwurms is om ’n leesroetine te vestig.
Christien Neser, ’n spraakterapeut en skrywer van Johannesburg, sê dat daaglikse lees ’n drieledige rol speel in kinders se ontwikkeling. “Eerstens, emosioneel – lees behoort te begin terwyl die mamma nog swanger is.
Die ritmiese klanke van haar stem, besig om ’n boek voor te lees, is ontspannend vir die mamma en wonderlik vir die fetus. Op 18 weke begin die oortjie klanke hoor en op 27 weke begin ’n fetus se hartjie vinniger klop as hulle mamma se stem hoor.
“Dié aangename band tussen ma se stem en baba se gevoel van veiligheid gaan voort na geboorte.”
“Dieselfde gevoel van veiligheid ervaar die kind op hul ma se skoot wanneer daar van jongs af deur storieboeke geblaai en die storie vertel word. So bou mens ook ’n liefde vir boeke en lees, lank voordat die kind skool toe gaan. Boeke is jaloerse goed: dit vereis van ’n ouer om persoonlik met ’n kind te sit. ’n Skerm sny die ouer uit. Boeke verseker dus meer kwaliteittyd tussen ouer en kind. Altyd ’n goeie ding!”
Tweedens is op ’n kognitiewe vlak – Christien sê ouers kan letterlik hulle kinders slimmer praat.
“Die grysstof waarmee baba gebore word, moet met senubane wat van witstof gemaak is, verbind word. Dis met daardie breinbane wat ’n ouer se stem help. Lees bou woordeskat en woordeskat is die akkuraatste voorspeller van akademiese sukses.”
Dan laastens, akademies: “Preleesvaardighede ontwikkel speel-speel. Die bladsy wat voor die kind se oë geblaai word, breek telkens die kind se denkbeeldige middellyn. Dit lei tot goeie midlynkruising. Ogies wat saam met die ouer se vinger van links na regs oor die bladsy beweeg, begin klaar die grondslag lê vir later lees. Aspekte soos rym en ritme, tipies van rympies, is uitstekend vir fonemiese gereedheid vir lees.”
“Die spel met klanke en woorde is goud werd vir aanvangslees.”
Nadia beaam dat as onderwyser is dit vir haar duidelik watter kinders lesers is. “As mens kyk na leesspoed, woordeskat en spelling kan ek vinnig sien wie lees, en wie nie.
"Lesers het ’n groter woordeskat, hulle spelling is oor die algemeen beter en hulle lees vinniger en met begrip. Lesers is ook meer kreatief wanneer dit kom by opstelle skryf en mondelinge. Hulle weet hoe goeie taal en storie-vertel werk, want hulle sien dit in boeke.”
Christien sê ouers kan letterlik hulle kinders slimmer praat. Foto: Canva
Wenke vir hoe om ’n leesroetine te vestig
Soos enige roetine, of dit nou tandeborsel of oefening is, verg lees daaglikse aandag, beklemtoon Nadia. “Dit kan nie nou en dan gebeur nie. Daaglikse lees is die kern.” Hier is ’n paar wenke van Christien en Nadia wat kan help om daaglikse lees ’n realiteit te maak:
- Stel ’n goeie voorbeeld vir jou kind. “Ek kom uit ’n storie-huis waar ek my ouers gesien lees het, en hulle ook vir my gelees het. Kinders kyk wat jy doen – en as jy hulle aanmoedig om te lees, maar jy doen dit self nie, kan dit dinge moeiliker maak,” sê Nadia. Sy voel ook dat taalonderwysers vir hulle leerders moet wys dat hulle lesers is. “Moedig leerders aan om te lees, en stel skrywers aan hulle bekend. Ek voel ons as onderwysers moet hande vat met ouers om ’n leesroetine te vestig.”
- Beperk skermtyd, en geen skermtyd na aandete nie. Dan is dit boekietyd. “Vir ’n slaaptydstorie is 20 minute voldoende. En as die kind 50 keer dieselfde boek wil hoor, dan doen jy dit. Hulle leer deur herhaling en hulle voel veilig as hulle die einde kan voorspel,” sê Christien.
- Geen kind moet gaan slaap sonder ’n storie nie, beklemtoon Christien. “Onthou: stories bou breinpaadjies. Sodra dit skemer in die kamer is en mens met ’n bedliggie lees, skakel die frontale lobbe van die kind af. Hierdie deel word oorgestimuleer deur al die skerms waarop hulle speel of na kyk. Die storie kalmeer die kind, laat die slaaphormone loskom en sorg vir dieper slaap. Die brein restoureer homself in die nag deur afvalstowwe af te skei en nuwe breinbane te bou. Hoe beter die kind slaap, hoe beter verloop hierdie proses.”
- Dit kan moeilik wees om ’n leesroetine te vestig by sommige kinders, veral seuns, meen Nadia. “Dit was moeilik met my eie seun, en ek het gevind oudioboeke was uitstekend vir hom. As onderwyser en ouer is ek ’n groot voorstander van oudioboeke. Sit dit aan in die kar, wanneer die kind trampolien spring of jou in die kombuis help. Kinders vergeet soms dat lees eintlik gaan oor stories, en as jy hou van stories, sal ’n oudioboek net so waardevol wees soos ’n papierboek.”
- Onthou dat ’n kleuter se aandagspan kort is. “Lees solank as wat die kindjie kan stilsit en dit geniet. Moet dit nooit forseer nie. Gesels dan eerder verder en tel die boekie later weer op. Onthou om op die kind se vlak te bly. Moenie te ambisieus wees nie. Groot, gekleurde boeke vir kleiner kinders en kleiner boeke met minder detail vir ouer kinders. Die tekste sal ook stelsematig langer word,” is Christien se raad.
- ’n Lummel van graad 7 kan steeds saans na ’n voorleesstorie luister, sê Christien. “Ma kan ’n paragraaf lees, en dan die kind los om self verder te lees. Dit moedig boeklees voor slaaptyd aan. En boeklees as deel van slaaptydroetine, laat die brein vinniger in REM-slaap gaan.”
- Boeke is duur om te koop, maar daar is steeds goeie biblioteke waarby ’n mens kan aansluit. “Maak dit ’n lekker uitstappie en ’n kans vir kwaliteittyd saam om biblioteek toe te gaan en boeke vir die week te kies,” sê Nadia.
- Die grootste wenk, is om lees lekker te maak vir jou kind. “Die brein is ’n genotsorgaan. Hy wil doen wat vir hom lekker is. Hy soek patrone wat hy kan herhaal en regkry. Dit is ook die basis van lees. Hoe lekkerder ouers dit by die huis maak, hoe beter gaan boet en sus by die skool lees. En hoe maak ons die leesles lekkerder? Ons lees hom vlot. En hoe raak ons vlot? Ons lees die les oor en oor saam met ma of pa (paarlees) totdat die les vlot is. Dan maak die brein self die sluiting en die kind gaan met selfvertroue skool toe, paraat om die les te gaan voorlees,” sê Christien. “Die grootste vabond wat lees kelder, is angstigheid. ’n Angstige kind is ’n adrenalienbom. Die inligting kan nie by die pre-frontale korteks uitkom as adrenalien teenwoordig is nie. Maak hulle lief vir boeke en lees, en die angs in die klas sal verdwyn. ’n Gelukkiger kind en gewaarborgde akademiese vordering.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’