GRAAFF-REINET NUUS — Gedurende die laaste naweek van Maart het Hoër Volkskool se top seunswemmer, Llewellyn Crewe-Brown en dogterswemmer, Lizandri Crewe-Brown aan die Vlak 2 en 3 Nasionale Swemkampioenskappe deelgeneem.
Hierdie swemgala is waar die top swemmers van regoor die land en selfs die buiteland bymekaar kom en sake uitspook om te bepaal wie die top swemmer van sy of haar ouderdom is.
Die gala strek oor vier dae en meer as 800 swemmers het oggend, middag en aand uitdunne en finale-rondes geswem. Gedurende opwarming het die olimpiese grootte swembad by Newton Park in Port Elizabeth behoorlik soos die jaarlikse sardynloop gelyk met die honderde jong mense wat vir oulaas raad kry van hul afrigters.
Lizandri Crewe-Brown het skitterend presteer en het die finaal behaal in die 50m en 100m borsslag sowel as die 100 en 200m rugslag items. Dis reeds 'n eer om onder die top 8 swemmers gelys te word maar Lizandri het nog beter presteer en in beide die borsslag-items die podium behaal waar sy silwer in die 50m gewen het en brons in die 100m.
Llewellyn Crewe-Brown het weer sy slag gewys in die rugslag en het vir beide die 50m en 100m rugslag goud gewen en staan dus eerste in sy ouderdomsgroep vir rugslag. Hy behaal ook 'n derde plek vir die 100m vryslag.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'