JANSENVILLE NUUS - Verskeie individue van verskillende organisasies in die dorp het die nood, van ’n uitreik na kinders wat nie in die skool is nie, geïdentifiseer.
“Wat ’n geseënde uitreikaksie was dit nie,” vertel Leoné Mulder, wat ook die geleentheid bygewoon het.
Mulder was na afloop van die geleentheid in gesprek met Graaff-Reinet Advertiser.
Mulder is ook die bestuurder van Huis Welverdiend, ’n tehuis vir senior burgers in Jansenville, en sy het op Dinsdag 9 Junie die geleentheid in die Jansenville-stadsaal bygewoon.
Elke kind wat skoolpligtig is, maar nie skoolgaan nie, is vroegtydig geïdentifiseer.
Daarna is daar saam met die departement van sosiale ontwikkeling, wat deur die plaaslike maatskaplike werker verteenwoordig is, geskakel.
Daar is ook pogings aangewend om in kontak te kom met ouers en voogde, daar is vrolike speletjies gespeel terwyl die kinders die geleentheid kry om in spanverband mee te ding, en vir leiers om die kinders te leer ken.
Ds. Attie Botha, leraar by die NG Kerk in Jansenville, het die boodskap wat op die netbal-, rugby-, en sokkerballe van Living Ball Ministries, wat deur Rugby Players for Jesus geskenk is, as ’n besondere boodskap aan die kinders oorgedra.
“Lost in sin, Redeemed by His blood, Filled with his spirit and growing in Christ”, was ’n deurslaggewende boodskap, en daarna het kon twee spanne met een van hierdie besondere balle raakrugby speel,” vertel Mulder.
“Span 2 het met ’n besliste meerderheid gewen ten spyte van die feit dat die sterkste speler ‘rustyd’ na Span 1 oorgeloop het,” word vertel.
Dit is blykbaar nie net in die politiek waar oorlopery ’n algemene gebeurtenis is nie!
“Daarna is stoeledans gespeel en hoewel dit ook groot pret was, het alles baie ordelik verloop, ‘want die reëls was immers baie streng!’
Kombersies is as pryse aan die wenners gegee.”
Huis Welverdiend staan mos nooit terug vir ’n uitdaging nie, en die kombuis het lekker dik ertjiesop met spek, soos net hulle dit kan maak, en vars broodjies voorberei en dit het groot aftrek geniet.
Elkeen kon ook ’n soetigheidjie as bederfie saamvat.
“Alle lof en eer aan Jesus,” het Mulder afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’