JANSENVILLE NUUS - Inwoners van Jansenville is bekommerd oor die ongekende vlaag misdaad wat die dorp die afgelope tyd teister.
Pauline van Zyl, ’n prominente figuur in die Jansenville-gemeenskap, is van mening dat dit erger as ooit tevore is.
Die koperpype van talle huise en besighede, sowel as dié by die stadsaal, die poskantoorgebou en die plaaslike dokter se spreekkamer, is onlangs uit mure gebreek en gesteel en moes vervang word.
Selfs die krieketveld het deurgeloop.
Die museum se tuingereedskap, wat in ’n klein buitekamer aan die agterkant geberg was, is ook onlangs uit die perseel gesteel.
Van Zyl vertel dat inbrekers ’n mat wat voor die deur gelê het, oor die draad aan die agterkant van die erf, aangrensend aan die gevangenis, gegooi het en so die kruiwa, grawe, tuinvurke en besems oor die draad gesteel het.
“Gelukkig was die grassnyer seker te swaar, so hulle het dit gelos,” sê Van Zyl.
Volgens Van Zyl is al die gevalle by die polisie aangemeld en alhoewel die museum se tuingereedskap opgespoor en terugbesorg is, is niemand tot dusver in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’