GQEBERHA NUUS - Meer as 50 kerkleiers van regoor die Oos-Kaap het vroeër vandeesmaand bymekaargekom om nuwe maniere te ondersoek waarop geloof prakties uitgeleef kan word, om gemeenskappe te versterk en lewensomstandighede te verbeter.
Die Leiersberaad, wat van 2 tot 4 Junie by St. Luke’s Retreat in Gqeberha plaasgevind het, het gefokus op sosiale innovasie - die proses waardeur mense saamwerk om uitdagings in hul gemeenskappe aan te spreek en volhoubare verandering te bewerkstellig.
Volgens ds. Danie Mouton, uitvoerende direkteur van die NG Kerkin die Oos-Kaap, het die beraad deelnemers uitgedaag om na te dink oor hoe gemeentes, geïnspireer deur hul geloof, meer leefbare en hoopvolle gemeenskappe kan help skep.
“Hoe kan ons, geïnspireer deur die lewende God, van ons gemeenskappe beter en meer leefbare plekke maak?
Watter praktiese vaardighede, insigte, gesindhede en gewoontes verg dit van ons as gemeentes? Wat is die beste praktyke wat deur die tyd getoets is?” was van die vrae wat tydens die beraad bespreek is.
Die driedaagse werksessie is gelei deur dr. Frederick Marais, dekaan van die Sentrum vir Sosiale Innovasie aan die Hugenote Kollege.
Tydens die beraad is beklemtoon dat suksesvolle gemeenskapsontwikkeling gewoonlik begin by die werklike uitdagings en pyn wat mense ervaar.
Deelnemers het gehoor hoe belangrik dit is om saam met gemeenskapslede die oorsake van probleme te identifiseer en oplossings te ontwikkel wat uit die gemeenskap self voortvloei.
’n Hoogtepunt van die beraad was die aanbieding deur Teresa Opperman van die Hofmeyr-gebaseerde organisasie, Hugs of Hope. Sy het vertel hoe haar betrokkenheid by kinders in nood gelei het tot die ontstaan van die projek.
Volgens Opperman het sy aanvanklik bewus geraak van die uitdagings waarmee baie kinders in haar gemeenskap worstel.
Deur saam met ander inwoners die omvang van die nood te ondersoek, is praktiese planne ontwikkel om ondersteuning te bied.
Die projek het aanvanklik vanuit ’n kerksaal gefunksioneer, maar het vanjaar verder uitgebrei nadat ’n leë gebou aangekoop kon word om die organisasie se bedrywighede te huisves.
Opperman het ook vertel hoe sy in moeilike tye telkens herinner is aan die oorspronklike roeping om die lewens van kinders te verbeter.
Volgens Mouton het die beraad daarop gemik om deelnemers toe te rus met praktiese hulpmiddels om hoop te bring waar daar dikwels moedeloosheid en onsekerheid heers.
“Die Leiersberaad was ’n praktiese werksessie waar sinisme en slagofferskap vervang is deur die wete dat die lewende God steeds in gemeenskappe werksaam is en besig is om lewenskwaliteit te verbeter,” het hy gesê.
Die tema van die beraad is geïnspireer deur Esegiël 47, waar die beeld van lewende water gebruik word om God se genesende teenwoordigheid in gebroke gemeenskappe uit te beeld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’