JANSENVILLE NUUS - Die vernietiging van ’n meer as 105 jaar oue beeld van ’n engeltjie in die Jansenville-begraafplaas het weereens die vergrootglas geplaas op die volgehoue plundering en beskadiging van grafte in plaaslike begraafplase.
Baba Mark Locie is op 28 Mei 1921 in die Jansenville-begraafplaas ter ruste gelê, en oor die jare het die engeltjie op sy graf ’n herkenbare baken in die begraafplaas geword.
Die beeld is egter onlangs afgebreek en in stukke op die graf aangetref.
Ander grafte in dié begraafplaas word ook gereeld geskend, met grafstrukture wat beskadig of afgebreek word.
Volgens ds. Attie Botha van die NG Kerk Jansenville berus die bestuur van begraafplase by die plaaslike munisipaliteit.
Hy voer aan dat daar oor die jare herhaaldelik kommer oor sekuriteit en instandhouding uitgespreek is, maar dat die kwessie moontlik in ’n breër konteks verstaan moet word.
“Hoewel daar geldige kritiek oor die toestand van begraafplase is, behoort daar ook na ’n ander perspektief gekyk te word,” sê hy.
Volgens Botha is begraafplase nie slegs rusplekke vir die oorledenes nie, maar ook ruimtes wat die realiteite en uitdagings van die lewende gemeenskap weerspieël.
Hy wys daarop dat sommige mense weens moeilike omstandighede skuiling of toevlug daar soek, dikwels sonder voldoende ondersteuning om hul situasie te verbeter.
Tog glo hy dat groter deernis, begrip en gemeenskapsbetrokkenheid kan help om hierdie uitdagings aan te spreek.
“Klein dade van omgee en sorg het ’n reuse-impak,” sê hy.
Hy beklemtoon dat respek vir die oorledenes en omgee vir die lewendes hand aan hand gaan, en dat die wyse waarop gemeenskappe na mekaar omsien uiteindelik bepaal watter soort samelewing gevorm word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’