CRADOCK NUUS - ’n Jong ruiter van Laerskool Cradock, Isabella Herselman (12), het die skool se naam hoog gehou met haar uitstekende prestasies tydens die onlangse South African Western Mounted Games (SAWMGA)-kompetisie in Prieska.
Isabella het die naweek van 13 en 14 Junie aan die kompetisie deelgeneem, waar sy verskeie podiumplekke behaal het.
In die kwalifiserende rondes het sy eerste plek in die C1-afdeling van ronde drie verower, terwyl sy tweede geëindig het in die C1-afdeling van ronde vier.
Saterdag het sy in die kinders vlak 1-afdeling meegeding, waar sy een eerste plek en twee tweede plekke behaal het.
Haar uitstekende vertoning het haar die algehele eerste plek in dié afdeling besorg.
Sy het die momentum op Sondag voortgesit met twee eerste plekke, twee tweede plekke en ’n derde plek, wat haar die algehele tweede plek vir die dag besorg het.
Isabella se volgende uitdaging wag reeds later vandeesmaand wanneer sy van 26 tot 28 Junie aan die African Western Mounted Games in Hofmeyr gaan deelneem.
“Ek sien baie uit daarna, want dit is darem nader aan Hofmeyr as aan Prieska,” het sy gesê.
Laerskool Cradock is trots op Isabella en ander leerders wat perdry as buitesport beoefen en op provinsiale en nasionale vlak presteer.
Die South African Western Mounted Games is ’n gewilde perdrysport wat spoed, ratsheid en presisie kombineer.
Deelnemers en hul perde moet ’n verskeidenheid uitdagende bane voltooi, wat die vaardigheid en samewerking tussen ruiter en perd toets.
Kompetisies word regoor Suid-Afrika aangebied en bied aan ruiters van alle ouderdomme die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel en teen die land se beste deelnemers mee te ding.
Die sport is toeganklik vir beginners sowel as ervare ruiters,en kinders kan reeds vanaf ’n jong ouderdom deelneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’