GRAAFF-REINET NUUS — Verlede week het Hoër Volkskool hul jaarlikses kleure-swemgala aangebied.
Dit was 'n eerste vir die skool met 'n middag-aand affêre wat die gala 'n heel ander atmosfeer gegee het. Die 'nuwe' omstandighede het egter nie Hoër Volkskool se topswemmers beïnvloed nie, want die rekords het steeds gespat.
Lizandri Crewe-Brown het op die dag aan tien items deelgeneem en 'n rekordgetal van nege rekords verbeter.
Die rekords wat sy gebreek het is as volg 4x50m Individuele Wisselslag, 50m, 100m en 200m Rugslag, 50m en 100m Borsslag, die 50m, 100m en 200m Kruipslag.
Die 200m kruipslag rekord het sy met 17 sekondes verbeter - dié rekord het gestaan vanaf 1995, opgestel deur Jo-Anè Nel.
Llewellyn Crewe-Brown het die 100m Rugslagrekord gebreek, asook die 20-jaar-oue rekord van MC Dippenaar, met 'n tyd van 28,63.
Jaco Gouws het ook 'n rekord gebreek - die 50m Borsslag.
Na afloop van die gala is Lizandri Crewe-Brown en Llewellyn Crewe-Brown aangewys as die Victrix en Victor Ludorum van die dag.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'