GRAAFF-REINET NUUS — Verlede Vrydag, 12 Mei, het OP Swem hul jaareinde-dinee gehou waar al die top swemmers in die Oostelike Provinsie toekennings en trofeë ontvang het vir hul prestasies gedurende die 2016/2017 seisoen.
Dit was ‘n swierige affêre waar swemmers in aandrokke en grimering eerder as swemklere verskyn het.
Daar was ‘n heerlike ete bedien en die lokaal was pragtig versier. Soos almal weet kan swemmers nogal baie eet en was die buffet dus ‘n groot treffer.
Die prysuitdeling het vier dissiplines van watersport geadresseer - swem, water polo, ope water swem en gesinchroniseerde swem.
Na die kleiner en meer algemene pryse uitgedeel was het die aandag verskuif na die top swemmers in elke ouderdomsgroep.
Hierdie gesogte toekennings beloon swemmers wat konstant top prestasies in die swembad behaal en in die nasionale gala die beste resultate behaal het.
Hoër Volkskool se Lizandri Crewe-Brown het die trotse prestasie behaal om as top O.17 dames swemmer vir die seisoen 2016/2017 gekroon te word.
Spesiale melding is van haar gemaak aangesien sy die enigste plattelandse swemmer is wat hierdie prestasie kon behaal die jaar.
Volkskool is trots op haar en glo dat sy nog diep spore in hierdie sport sal trap.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'