Update
GRAAFF-REINET NUUS - Die twee beskuldigdes wat op 2 Mei vir die onwettige besit en vervoer van perlemoen gearresteer is, is 11 Mei in die Graaff-Reinet-landdroshof op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.
Frank Daniël Barends (51) het met 'n Porsche Cayenne en Mannetjie Kerneels Chaka (47) met 'n Toyota Camry tussen Jansenville en Graaff-Reinet gereis.
Die voertuie was met perlemoen ter waarde van R3 300 000 gelaai.
Die saak word as 'n skedule vyf misdryf hanteer omdat die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne oortree is.
Volgens hierdie wetgewing is die insamel, verwydering, storing en vervoer van mariene hulpbronne onwettig. Perlemoen word vervolgens gelys as 'n bedreigde mariene hulpbron.
'n Borgtogooreenkoms is voor die hofverrigtinge tussen die staatsaanklaer, Katlego Ncube, en die verteenwoordiging van die beskuldigdes, advokaat José van die firma Du Plessis en vennote opgestel. Die staat het nie die borgtogaansoek teengestaan nie. Die saak is tot 11 Augustus uitgestel.
Die volgende faktore is deur adv. José aangegee as redes vir die toestaan van borgtog:
- Barends is die broodwinner, met vier kinders waarvan een minderjarig is. Hy verdien, as sakeman, 'n salaris tussen R35 000 en R40 000 per maand.
- Chaka verdien 'n inkomste tussen R10 000 en R12 000 per maand, en het twee volwasse kinders. Hy is egter steeds verantwoordelik vir hulle. Hy werk vir homself.
- Geen hangende sake of uitstaande arrestasies teen enige van die twee bestaan nie, hoewel daar wel vorige oortredings aangedui is.
- Ondersteunende faktore wat die borgtogaansoek versterk is dat beide vaste adresse in Gansbaai het.
- Albei is al vantevore skuldig bevind op dieselfde aanklagte; hul laaste skuldigbevinding was 2010.
- Die ondersoekbeampte ao. Johan Gerber het gesê dat die staat reeds 'n prima facie-saak teen beide beskuldigdes opgebou het en die getuienis teen die beskuldigdes baie sterk is.
Bhebhula het in sy borgtogaansoek uitspraak beaam dat hierdie 'n baie ernstige oortreding is, maar dat dit nie tot voordeel van die gereg is om hulle in gevangenskap te hou nie. - Hul woonadresse is nagegaan en hulle is ook nie 'n vlugsrisiko nie
- Hulle is nie 'n veiligheidsrisiko vir die samelewing nie
- Hulle sal nie met die getuienisse inmeng nie
- Bhebhula het genoem dat hy verwag dat hierdie saak lank sal neem voordat daar tot 'n finale beslissing gekom sal word.
Die volgende borgtogvereistes is vasgestel:
Beskuldigdes moet een keer per week, op 'n Woensdag, tussen 06:00 en 20:00 by Gansbaai-polisiestasie aanmeld.
Die ondersoekbeampte moet dienooreenkomstig binne tien dae van enige adresverandering in kennis gestel word.
Indien hul apart of gesamentlik die land wil verlaat, moet die ondersoekbeampte vooraf in kennis gestel word en hulle skriftelike toestemming ontvang.
Borgtog is aan die verhoorafwagtendes toegestaan teen R10 000 elk. Die saak is tot 11 Augustus uitgestel.
Vorige artikels:
- Perlemoenmanne kry borgtog
- Perlemoenmanne vandag in hof
- Vermeende perlemoenstropers glo ou bekendes in Wes-Kaap
- Police pounce on fishy Porsche
- Polisie vis Porsche vol perlemoen uit
Die Porsche was gevul met sakke vol perlemoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’