GRAAFF-REINET NUUS - 'n Groep afgetrede vriende van St Francisbaai het op 19 en 20 November 'n besoek aan Hofmeyr gebring.
Ronnie Nienaber, die hooforganiseerder en toerleier, vertel dat die groep elke jaar 'n toer uitwerk sodat hul klein dorpies in die Oos-Kaap kan besoek.
"Hierdie jaar het die toer ons na Bedford, Tarkastad en Hofmeyr geneem.
Die hoogtepunt van hierdie jaar was die historiese hotel op Hofmeyr, waar ons na staaltjies uit die dorpie se geskiedenis kon luister. Die Vic Boetiekhotel het ons as historiese instelling verstom.
"Ons is ook beïndruk met die werksaamhede, werkskeppingsprojekte en opleidingsgeleenthede by Hofmeyr Hugs of Hope. Ons is met ope arms ontvang en kon kennis maak met talle interessante geesgenote vanuit die gemeemskap.
"Natuurlik het die vroue ook pragtige Kersfeesitems gekoop. Groot was die verrassing toe ons agterkom dat Hofmeyr ook 'n eersteklas skoenwinkel het, wat ons goed ondersteun het."
Ronel Gouws van Hofmeyr Hugs of Hope sê die toergroep het hulle ruimhartig ondersteun met 'n donasie, wat gebruik sal word om die naaimasjiene te diens.
Nienaber sê die jaarlikse toer is 'n heerlike bederf en hy doen navorsing oor elke dorpie voordat hulle dit besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’