RUBRIEK - Ek vertel vir Oom Klaas die koerant het 'n nuwe redakteur. Tipies Oom Klaas vra hy nie na haar naam, ouderdom, huwelikstatus, agtergrond, vorige ondervinding, kwalifikasies, herkoms, mag van die taal of enigiets wat hy beskou as die "kosmetiese aanplaksel tot 'n siel" nie.
Oom Klaas: "Nou maar teken haar vir my?"
In woord en verduideliking skilder ek haar aan hom: "Respekvol, innemend, energiek, nuuskierig, positief, doelgerig, deeglik, dapper en vol durf. Iemand met twee ore en een mond en lank genoeg in die land om te weet loop en hardloop kom ná kruip, maar kruip kan werk waar hardloop faal."
As 'n nagedagte voeg ek by dat ek haar nou nog nie persoonlik die oë opgelê het nie, maar van wat ek kon agterkom, is sy nogal duidelik ook – sag genoeg op die oog blykbaar.
Oom Klaas: "Hoe voel sy oor mense?"
Ek het geweet hy sou wou weet, so ek het haar reeds gevra: "Sy reken as 'n mens al geleef het, sal jy weet no man is an island – mense het mekaar nodig.
"Maar as jy al WERKLIK geleef het, sal jy weet régte mense het waardering vir mekaar, eerder as wat hulle mekaar nódig het." Oom Klaas se kommentaar is kort: "Hmm, so sy verstaan van vlugtige voetwerk. Rats. En dis goed.
"Hoe kom sy reg?"
"Sy sê sy swem so 'n bietjie, maar haar kop steek darem nog uit bokant die water," antwoord ek.
Oom Klaas: "Kop bo die water is goed. Jy kan net weet jy kan nie swem nie as jy klaar verdrink het. Haar kop steek uit en sy weet sy swem – sy sal nie verdrink nie; in elk geval nie vanself nie."
Ek vra Oom Klaas of hy haar wil gelukwens.
"Geluk het niks met die prys van pere te maak nie, man. Geluk sal vanself kom as sy alles is hoe jy haar geskilder het en as sy fokus en net aanhou swem, want dan sal sy nie verdrink nie.
"Ek wil haar g'n geluk of sukses of voorspoed toewens nie, want wense het die manier om met allerhande verskuilde instruksies te kom – vat nou maar die wens om suksesvol te wees.
"Hoe wil jy suksesvol wees as jy nie opdaag vir die toets wat sukses of mislukking bepaal nie? En wie wil nou eintlik vrywilliglik getoets word – watse wens is dit dan nou!? Wie op aarde sal regtig wens vir voorspoed as jy weet om voorspoed te herken, moet jy weet wat teenspoed is?
"Nee man, ek bid haar genade, ruimte en tyd toe. Mag sy deur genade kop bo water bly hou en mag daar vir haar helpende hande wees wanneer haar kop te lank onder die water verdwyn. En mag sy die ruimte en tyd gegun word om die water waarin sy swem, te leer ken.
"Voordat Katie Ledecky begin swem het, wie het geweet sy gaan sewe Olimpiese goue medaljes wen en negentien wêreldkampioenskappe?
Nie ek nie. Maar wat ek wel weet, is dat die Michael Phelps van joernalistiek hierdie nuwe redakteur touwys maak en dít maak my opgewonde."
Oom Klaas beduie met sy hand dat ek moet aanstaltes maak: "Loop doen jou deel om ons koerant ons koerant te hou – ek wil lees!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’