WILLOWMORE NUUS - ’n Hoogtepunt van die Willowmore VLV-tak se vergadering op 15 April was toe die leefstylsameroeper van die Willowmore-VLV, Nicolene van Jaarsveld, die vergadering vertel van hul skenking wat na die Rooikruis-kinderhospitaal gaan.
Die skenking word jaarliks gedoen.
Hierdie jaar se besending het teddiebere, kombersies (in verskeie groottes), mussies vir vroeggebore en pasgebore babas, kleuters, skoolkinderstjies, kankerlyers en bejaardes, en vragte kleurvolle slaapsokkies in verskillende style ingesluit.
Die vrag word netjies gesorteer en verpak, en Stander neem dit na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad wanneer sy die stad besoek.
Daar kan in alle eerlikheid gesê word dat die grootste bydraer tot die jaarlikse skenkings Oumies Stander (66) is.
“Haar hart is sag, maar haar hande kan brei dat dit bars,” sê die leefstylsameroeper van die Willowmore-VLV, Nicolene van Jaarsveld.
“Terwyl sy brei is sy gelukkig, en die hele dorp weet al: sy is so dankbaar vir elke bol oorskietwol, want niks gaan verlore nie.”
Stander woon op Uniondale waar daar nie meer ’n VLV-tak is nie.
Stander sê sy was baie dankbaar vir die skenking van wol en gebreide blokke wat sy van die Willowmore-tak ontvang het en moedig almal aan wat oorskietwol het om dit aan die VLV te skenk.
“Gelukkig hoef ek nie self al die blokke aanmekaar te hekel nie.
Ek het ook al vir my helpers ingekatrol wat nie skrik om ’n kombers uit los blokke saam te flans nie,” vertel sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’