RUBRIEK - Met my instap by oom Klaas-hulle speel musiek iewers in die huis, Me and Bobby McGee gesing deur Kris Kristofferson. Oom Klaas beduie met die kop in die rigting van die musiek: "Geskryf deur Kristofferson en Fred Foster, 1969. Die lied waarmee Kristofferson vir homself 'n plek in die musiekbedryf oopgeskryf het."
"Freedom is just another word for nothin' left to lose ..." vorm oom Klaas se lippe die woorde.
"Tja, so op jaar nommer 29 is daar heelwat mense in hierdie land wat die betekenis van daardie woorde beter verstaan as wat Kristofferson en Foster saam kon toe hulle die lied geskryf het. Soveel mense wat dit daagliks leef - Nothin' ain't worth nothin', but it's free.
"Feeling good was easy ...Jy weet, ons is so vry in hierdie land van ons dat die land aan almal behoort, maar wie aanvaar verantwoordelikheid vir ons land?
"Ons is so vry dat wetsgehoorsame burgers hulleself moet inkerker teen die vrye beweging van inbrekers, verkragters en moordenaars wat ontsnap of vrygelaat word. Ons is so vry dat banke wat ons geld moet oppas, ons gereeld waarsku om niemand met ons geldsake te vertrou nie – en dis nadat hulle gevat het wat en soveel hulle wil. Ons is nou so vry dat kerke se spirituele kompas gerig word op die Grondwetlike Noord; dat joernaliste se woordbeitels nuus vorm binne die riglyne van regtens toelaatbaar in stede van feitelike waarheid; en helaas – kinders se opvoeding oorheers word deur volwassenes se vrees vir vervolging.
"Ná 29 jaar van reënboë soek en skilder terwyl die son ondergaan met 'n maan- en sterlose nag wat om ons vou, het ons presies net genoeg vryheid om niks meer oor te hê om in te ruil vir vrede of vooruitgang nie. In ruil vir vryheid het ons ons laat stroop van verantwoordelikheid. Verantwoordelikheid is die teelaarde; selfrespek is die saad; met orde en dissipline die daaglikse voeding en water om sukses te kweek. Ons het inderdaad aansienlik meer regte en meer vryhede as ooit tevore in die geskiedenis van hierdie land. Voorheen miskendes en onderdruktes het uiteindelik vir die grootste deel van die laaste 29 jaar ook 'n plek in die son. En dit moet altyd gekoester en herdenk word. Maar by ons demokratiese stemreg is inbegrepe die verantwoordelikheid om nie ons vryheid tot persoonlike ontwikkeling en vooruitgang te verkwansel vir 'niks om te verloor' nie."
Oom Klaas huiwer 'n oomblik en voeg toe as nagedagte by: "Jy weet, Fred Foster wat help skryf het aan daai liedjie, het gesê as hy op 85 nie méér weet as wat hy op 75 geweet het nie, dan is hy nie 'n vinnige leerder nie, is hy? Kan ek hom eggo en sê as ons demokrasie op ouderdom 29 nie meer weet as wat ons op 9 geweet het nie, sien ek ons en ons land in stormreën op 'n back paddle-fiets waarvan die ketting af is op die afdraand van Ongeluksnekpas ...
"Maar ek sê jou wat: kom ons luister eerder na Koos Doep!
"As jy op niemand leun nie en niks van iemand vra nie, hoef niemand jou te steun nie; hoef niemand jou te dra nie. Dis tog so eenvoudig: dis jy, alleenlik jy en die groter sorge gaan vanself verby – niks om te verhaal nie; net die vrede bly; niks om te betaal nie – en skielik is jy vry…"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’