HUMANSDORP NUUS - Die San- en Khoi-tradisionele leier Wayne Pietersen (47), wat ook as raadslid by die Kouga Plaaslike Munisipaliteit dien, is in die Humansdorp-landdroshof skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer ná ’n voorval waarin twee fietsryers in die Kouga-gebied aangerand is.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die skuldigbevinding verwelkom. Volgens die NVG hou die saak verband met ’n voorval wat op 29 Junie 2024 in Papiesfontein in die Sarah Baartman-distrik plaasgevind het.
In ’n verklaring deur Luxolo Tyali, NVG-streekswoordvoerder vir die Oos-Kaapse afdeling, is gesê dat getuienis in die hof bevestig het dat Pietersen die twee fietsryers gekonfronteer het nadat hy hulle glo met ’n BMW-SUV van die pad af gedwing het.
Hy het beweer dat die fietsryers op grond gery het wat deur lede van die Khoisan-gemeenskap beset word en waar, volgens hom, sy voorvaders se grafte geleë is.
Volgens die Staat het Pietersen een van die klaers aan die arm gegryp in ’n poging om ’n burgerlike arrestasie uit te voer.
Daarna het hy homself glo met ’n knopkierie bewapen en ’n tweede klaer gekonfronteer, wat beseer is toe hy van sy fiets afgeval het.
Staatsaanklaer Siyabulela Swartbooi het getuienis aangebied en ook ’n J88 medies-regsverslag as deel van die Staat se saak voorgelê.
Pietersen het die aantygings ontken en aangevoer dat die voorval verband hou met ’n voortdurende grondgeskil waarby lede van die Khoisan-gemeenskap betrokke is.
Hy het gesê sy optrede is gemotiveer deur kommer oor beweerde onwettige toegang tot die eiendom.
Die hof het egter sy weergawe verwerp en bevind dat die Staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Die hof het ook Pietersen se ontwrigtende gedrag en uitbarstings tydens die verrigtinge gekritiseer en beklemtoon dat die hof nie ’n platform vir onverwante griewe is nie.
Ná sy skuldigbevinding, en voor vonnisoplegging, het hy glo weer ontwrigtend opgetree nadat hy die hof se bevindinge nie aanvaar het nie.
Die saak is tot 2 Junie uitgestel nadat Pietersen ’n prokureur op rekord geplaas het.
Die NVG het beklemtoon dat geen persoon, ongeag hul posisie of status, die reg in eie hande mag neem, lede van die publiek onwettig mag aanhou of aanrand in die naam van kulturele eise of beweerde regte nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’