NIEU-BETHESDA NUU - Ter herdenking van die NG-kerk in Nieu-Bethesda se 140ste bestaansjaar wat dié maand plaasvind, het die gemeente besluit om 'n groot fees daarvan te maak.
Dit is voorwaar 'n besonderse herdenking en gebeurtenis dat hierdie gemeente al vir 140 jaar die Boodskap kon verkondig.
Die fees - wat oor die naweek van 23 tot 25 November gehou word - sal geopen word met 'n langarm-opskop die Vrydagaand om 18:30 by die Nieu-Bethesda Sportklub.
Dit word gevolg deur 'n besige Saterdag-program wat insluit 'n 21,1km- en 12,5km-veldwedloop asook 'n 5km-pretloop in die dorp.
Daar is ook 'n 25km-veldfietsryroete.
By die kerk self word 'n teetuin beplan met heerlike eetgoedjies te koop en verskeie keurige stalletjies.
Gedurende die oggend van Saterdag, 24 November, sal die kerkgebou ook oop wees vir besigtiging, dit word dan gevolg deur 'n kranslegging by die begraafplaas op die dorpstigters se grafte - enige iemand wat familie het wat begrawe is in dié begrafplaas word uitgenooi om blomme of kranse te gaan plaas om 11:45 die oggend.
Saterdag se program word afgesluit met 'n potjiekoskompetiese vanaf 12:00 tot 16:00, waarvan die potjiekosse te koop aangebied gaan word aan feesgangers en besoekers.
Op Sondag, 25 November, word die feesviering met 'n spesiale erediens en orreluitvoering afgesluit.
Die feesnaweek beloof om hope pret te wees en dien ook as 'n fondsinsameling vir hierdie besonderse gemeente.
'n Bietjie geskiedenis
Nieu-Bethesda was eers 'n wyk van die NG-gemeente Graaff-Reinet, maar weens die afstand van 32 myl (sowat 50km) van die dorp af en dan boonop destyds met kar en perde oor die bergpas asook die groot getal lidmate wat in die tweede helfte van die 19de eeu op plase in die omgewing gewoon het, is daar gevoel dat dit die beste sou wees vir dié afgeleë wyk om as selfstandige gemeente af te stig.
Selfs ds. Charles Murray van die moedergemeente het dié gevoel gedeel.
Die plaas Uitkijk, later Nieuw Bethesda genoem, waar ook die buitekerk in 'n waenhuis in die pragtige, boomryke vallei van die Gatsrivier gehou is, is deur die kerkraad vir dié doel aangekoop.
Die plaas het behoort aan BJ Pienaar en is deur Graaff-Reinet se kerkraad as die geskikste geag vir dié doel omdat dit sentraal geleë was in die Sneeuberge.
Dit was ook omdat etlike gesinne op die waterryke en vrugbare plaas gewoon het.
Die eienaar, in die omgang bekend as oom Barend, het 'n groot aandeel in die stigting van die dorpie en gemeente gehad.
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'