Update
JANSENVILLE NUUS - Die uitslag van Kwêla se gewilde Dorp van die Jaar-kompetisie is Sondagaand, 28 Julie, bekendgemaak.
Jansenville in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit was die Oos-Kaap se streekfinalis, maar kon dit ongelukkig nie regkry om die gesogte titel huis toe te bring nie.
Heidelberg in Gauteng is aangewys as dorp van die jaar, met De Rust (Wes-Kaap) en Dullstroom (Mpumalanga) in tweede en derde plek, en Jansenville vierde.
Pauline van Zyl, voorsitter van die Jansenville & Beyond Tourism en ook van Jansenville se Dorp van die Jaar organiseerderskomitee sê dat hulle werklik baie hard gewerk het en daarom teleurgesteld is oor die uitslag.
Ten spyte daarvan is hulle tevrede omdat die 10-minute uitsending oor Jansenville baie vir die dorp beteken het.
“Kykers van regoor die land weet nou meer van Jansenville,” sê sy. “Van die besighede het selfs oproepe van sover as Kaapstad gekry met bestellings vir produkte.”
Van Zyl het die Dorp van die Jaar-komitee bedank vir hul harde werk. Sy bedank spesifiek vir Leoné Mulder en haar span wat dae aaneen deurnag gewerk het om stemme uit te bring met die geld wat hulle self ingesamel en van borge ontvang het.
Volgens Van Zyl het die meer as 22 000 stemme wat deur hierdie span uitgebring is Jansenville se vierde plek verseker.
Van Zyl bedank ook vir AC du Plooy, voorsitter van die boerevereniging, vir sy persoonlike ondersteuning en die ondersteuning van die vereniging, en vir Louis Nel wat die Jansenville-uitsending so spesiaal gemaak het met sy helikopterrit vir die Kwêla-span.
“Ons het gedoen wat ons kon en is baie trots op ons vierde plek,” sluit sy af. “Heidelberg is ‘n waardige wenner met inwoners wat al lank saamwerk om van hul dorp ‘n beter plek te maak. Hulle verdien dit.”
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’