JANSENVILLE NUUS - Jansenville en Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se mense het nog net tot die einde van komende Vrydagoggend, 19 Julie, kans om dié pragtige angoradorp Kwêla se Dorp van die Jaar te maak.
Stemme sluit 12:00 noen, so daar is nog net twee dae oor om te stem - so stem nou so veel en so vinnig as wat jy kan!
Jansenville is die Oos-Kaapse finalis en ding mee teen agt ander streekfinaliste:
- Heidelberg (Gauteng en Noordwes),
- Vosburg (Noord-Kaap),
- De Rust (Wes-Kaap),
- Modimolle (Limpopo),
- Dullstroom (Mpumalanga),
- Port Edward (Kwa-Zulu Natal),
- Frankfort (Vrystaat), en
- Outjo (Namibië).
Groot geld op die spel
Die wendorp word op 28 Julie op Kwêla aangekondig en hierdie jaar is daar groot pryse op die spel. Die wenner ontvang bemarking ter waarde van R1 miljoen van kykNET terwyl Homebrew Films - die vervaardigers van Kwêla - 'n 45-sekonde advertensie oor die dorp sal maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook 'n groot opskop in die dorp gehou word wat deur Kwêla verfilm en uitgesaai sal word. Boonop skenk Lottoland R1 miljoen kontant aan die dorp!
Hierdie skenking word in Lottoland se eie hoedanigheid gemaak en sal deur hulle ge-oudit word. Elke finalisdorp is vooraf gevra om 'n besigheidsplan vir die aanwending van die prysgeld in te dien.
Dit sal baie vir Jansenville beteken om as wendorp aangewys te word.
Weer tyd vir wen
Graaff-Reinet is in 2010 as Dorp van die Jaar aangewys toe Rapport en Kwêla dit vir die eerste keer saam aangebied het, maar dit was die laaste keer wat ‘n dorp in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit die titel kon huis toe te bring.
Vanjaar is dit die derde opeenvolgende jaar wat ‘n dorp in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit as Oos-Kaapse streekswenner aangewys word. Graaff-Reinet was die finalis in 2022 en Willowmore in 2023. So dis hoog tyd dat die area weer 'n wendorp kry!
Jansenville is bekend as die tuiste van die angorabok.
SMS Jansenville na 33157
Elke SMS kos R1,50 en alle inwoners van die munisipale area word versoek om hulle agter Jansenville te skaar.
Die benoeming as Dorp van die Jaar sal ongelooflik baie vir Jansenville beteken en het ook die potensiaal om ander dorpe te bevoordeel omdat dit toerisme in die hele area kan bevorder.
Die oorlogmonument ter ere van plaaslike soldate wat tydens die eerste en tweede wereldoorloe gesneuwel het, is 'n baken in die dorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’