OOS-KAAP NUUS - Op die eerste dag van skool, toe die son nog skaars oor die speelgrond glip, het klein gr. 1-handjies gretig hul splinternuwe skooltasse vasgehou.
Vir baie van hierdie leerlinge was dit nie net ’n tas vol skryfbehoeftes nie - dit was ’n tas vol drome, beloftes, en hoop.
“Solidariteit Helpende Hand se Oos-Kaap- en KwaZulu-Natal Suidtakke het weer eens skooltassies uitgedeel,” sê Marlene Basson, Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Oos-Kaap en KZN-Suid.
“Vir die 19de jaar stap Solidariteit Helpende Hand en die takke saam met kinders wat andersins met leë hande sou begin.
Nou kon elkeen met waardigheid en selfvertroue sy of haar skoolloopbaan aanpak.”
Binne-in elkeen van die tasse was ’n skatkis met alles wat ’n jong leerder nodig het om die eerste woorde te skryf, die eerste prentjie te teken, die eerste som te maak: ’n skêr, gom, skerpmaker, uitveër, liniaal, vetkryte, inkleurpotlode, HB-potlode, ’n witbordjie, merkers en ’n pennesakkie.
Vanjaar, met die hulp van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, is daar ook ’n 2020-vertaling van die Bybel ingesluit - ’n geskenk wat nie net die verstand voed nie, maar ook die hart.
Danksy hierdie projek stap elke kind met ’n tas op die rug en ’n glimlag op die gesig die klas binne - gereed om te leer, te droom en te bou aan ’n toekoms wat helder skyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’