HOFMEYR NUUS - Vrouedag, 9 Augustus, het net soos enige ander dag in Hofmeyr aangebreek.
Maar vir die vrywilligers wat by Hofmeyr Hugs of Hope betrokke is, het daar 'n reuse vreugde en 'n groot bederf gewag.
Reeds vroeg in Junie het Elmarie Lõtter, skoolhoof by Excelsior Primêre Skool in Port Elizabeth (Gqeberha), skenkings van nuwe en goeie tweedehandse handsakke - gevul met bederfies vir die vroue by Hofmeyr Hugs of Hope - begin bymekaar maak.
Die reaksie was bemoedigend: 40 vroue het gereageer, en 40 handsakke tjokvol vrouevreugdes is op Vrouedag in Hofmeyr afgelewer deur 'n barmhartige Samaritaan, Russel Komlozy, wat die donasie gratis vanaf Gqeberha vervoer het.
Nie net Hofmeyr Hugs of Hope se vrywilligers het handsakke vol vreugdes ontvang nie, maar ook die instansie se werksgroepe in die distrik, die Hofmeyr Hugs of Hope-breigroep by die Elizabeth Jordaantehuis, en die Hugs Kunsgroep by Marais Steyn-tehuis.
Vreugde
Danksy Elmarie Lötter en haar 39 donateurs is Vrouedag vir hierdie ontvangers met vreugde gevul.
"Elkeen in ons huishouding het saamgesmul aan die sjokolade en lekkergoed in my sak," vertel een gelukkige mamma.
'n Enkelma sê: "Ek het vir die eerste keer in 'n baie lang tyd nou weer parfuum en 'n mooi handsak".
"My handsak se rits het net die week voor Vrouedag die gees gegee," vertel 'n boervrou uit Hofmeyr, "en hierdie nuwe leerhandsak wat ek present gekry het, gaan my jare hou."
"Toe ek die sakke sien het my hart die mooiste klein rooi handsakkie raakgesien," vertel nog 'n vrou wat by Hugs naaldwerk doen, "en ek kon dit huis toe neem.
Die inhoud was voorwaar 'n groot bederf!"
Hettie Hänker koester haar pragtige sak .
"Hofmeyr Hugs of Hope se vroue was op Vrouedag voorwaar oorweldig deur die ruimhartige skenking vanaf die skoolgemeenskap en vriende van Excelsior Primêre Skool, waar die vroue nie enige van die vroue aan wie hul die groot geskenke gestuur het, ken nie," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’