RUBRIEK - Dit gebeur soms dat ek vrou-alleen, na sononder die grondpad plaas toe aanpak; dit was ook weer die geval na die Boereverenigingvergadering Woensdagaand.
Met vars koffie in my reisbeker en lekker musiek op die radio, durf ek die roete aan, en glo ek dat ek nog wakker genoeg is om die huis te haal.
So drie kilometer van Hofmeyr se pienk kerk af, met die flou maan wat net oor die Prammenkoppe loer, sien ek die lyk in die middel van die pad.
Nou kyk, ek lees graag ... en het dikwels al gelees dat mense maak of hul dood is, en as jy stop om uit te klim, was dit al die tyd 'n lokval en die rowers bestorm jou van alle kante af. Ek ry dus verby, maar toe oorval die skuldgevoel my, en ek draai weer om, neffens die twee koppe met die vreeslike naam. Ek bekruip die lyk so stadig as wat my voertuig my toelaat, en my voet bewe ook nou so effe op die pedaal, hier en daar ruk-en-stotter dit so effens. So vyf treë van die lyk af stop ek en besluit vanaand moet Hofmeyr se polisie maar die saak kom hanteer. Ek bel, en genadiglik is daar gou 'n antwoord, wat nie altyd 'n waarborg is nie. Intussen hou ek my parkeerligte oor die lyk aan, net om almal wat sou belangstel, in kennis te stel dat ek hom dophou. Ek is te bang om uit te klim en ek kry te koud om dit eers te oorweeg, want dis reeds minus drie grade buite. "Die lyk is dus in elk geval koud," besef ek.
Net mooi sewe minute later kom die blou flitsende ligte met skreeuende sirens om die draai van die dorp af. Die geraas veroorsaak dat almal wat dit hoor ook by die lyk aansluit, en 'n samedromming van mense in nagklere en kamerjasse is die gevolg, elkeen met sy eie mening. Ek verstaan egter bykans geen woord en bly dus sit - want ek is versigtig.
Die remme skreeu soos die polisievoertuig tot stilstand kom, hulle is skaars tot stilstand toe drie polisielede by die deure uitpeul, gewapen tot die tand met koeëlvaste baadjies. Hulle begin die area afkordon en die lyk word onder 'n kombers toegemaak. Die hele scenario speel verstommend vinnig voor my af, maar toe ek nou die lyk so mooi sit en bekyk vanuit my voertuig, sien ek dat die lyk se kop nie toegemaak word met die kombers nie. Een polisiekonstabel klim terug in hul voertuig en bulder 'n boodskap oor sy tweerigtingradio - 'n ambulans word ingeroep.
"Dese lyk lewe dus nog," besef ek. Ek het weer te vinnig gereageer want die arme polisie jaag om die lyk te kom haal en nou is die lyk net 'n lyf.
Na 10 minute daag die ambulans op en die lyf word met polisiekombers en al ingelaai. Dis weer flitsende ligte, rooies die keer, en daar gaan hy. My brein hou van stories, en terwyl ek plaas toe ry en uitkyk vir koedoes, vlakvarke en springhase, verwerk ek dié hele gebeurtenis.
"Het die mens dalk 'n epileptiese aanval gehad, en in 'n diepe slaap verval in die middel van die pad?"
"Nee, wag, dit was seker iemand wat hom raakgery het, en hom net daar laat lê het?"
Teen die tyd wat ek die plaashuis se ligte in die verte sien, glo ek, "Daar was beslis rowers in die bosse, en toe hul die polisie sien het hul gevlug." Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek nie 'n vrugbare verbeelding het nie.
Maar tuis, voor my kaggel, bel ek 'n kennis wat in die plaaslike polisie is. "Is die ou wat vanaand in die pad gelê het oraait?" vra ek.
"Ja Teresa, hy was net in 'n 'fight', hulle het hom papgeslaan en net daar laat lê. Maar hy is nou in die hospitaal."
Nou kan jy glo, die een scenario wat my brein nou nie vir my geskets het nie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'