GRAAFF-REINET NUUS - “Ek geniet nou my lewe so, en my blomme bring my soveel vreugde!” vertel Ida Prins (67) van Asherville, digby Graaff-Reinet.
“Ek het by die SA Polisiekollege gewerk, en die dag toe ek daar aftree, het ek myself bederf met twee roosboompies, wat ek by die SPAR in Graaff-Reinet gaan koop het.”
Laughton Hoffman, besturende direkteur van die Alpha en Omega Beweging in Asherville, het die Graaff-Reinet Advertiser gekontak en vertel van hierdie inspirerende vrou.
“Sy bly in ’n huisie hier in ’n straat naby my, en dit blom altyd daar!”
Die Advertiser kry Prins op ’n Maandagoggend in haar blomtuin.
“Ek was die wasgoed baie vroeg Maandagoggend, dan kan ek dit met sonop ophang en die res van die dag in my tuin bestee,” sê sy toe sy ons fris en vars ontvang, reg vir die onderhoud.
’n Toer deur haar tuin, waar twee reuse roosbome - wat sy professioneel laat snoei - reeds oortrek is met rose, is ’n ontdekkingsreis soos min.
Malvas in alle kleure skuur blad met skoonma-se-tong, en knoffelblommetjies gesels gesellig met varkore.
Die aartappelboom staan pers oortrek met die fynste blommetjies, en die irisse staan reeds heuphoogte, om sommer eersdaags te blom.
Haar aalwyne blom reeds, sommer so tussen die ment en robot-soetrissies.
“Ons het my voorstoep toegemaak vir die goed wat nie mag koud kry nie,” vertel sy, en wys die staanders met blombakke waarin varkore welig agter grasgroen skadunet groei “om reeds Oktober die wêreld op te vrolik.”
Hoffman vertel dat dit sy "tannie Ida" se grootste droom is om blomme te bemark, en so ’n ekstra inkomste te verdien.
“Sy is altyd gewillig om iets uit haar tuin vir die kerk en skole beskikbaar te stel, maar dit bring nie vir haar ’n inkomste in nie.”
“Alpha en Omega wil haar graag help - en ons versoek almal wat in hul lentetuine skoffel, om asseblief saailinge wat vir julle oorbodig is, by Alpha en Omega in te gee vir tannie Ida se tuin,” vra Hoffman.
“Laventelbosse, kantblommetjies, asters veral, leeubekkies en jakobregoppe sal so welkom wees. En daardie pakkie saad wat jy te veel gekoop het, sal sy ook kan gebruik!
“Nie alleen gaan ons haar help om as Graaff-Reinet se eie blomkweker en bloemis op die been te kom nie, ons gaan haar help om informele bosse blomme te bemark, en ons sal dit selfs vir haar gaan aflewer.
Maar, die heel belangrikste, ons gaan die jongeres by Alpha en Omega leer wat tuinwerk is, en hoe en wanneer kunsmis en deklae (mulch) nodig is. Ons gaan haar hande vat, terwyl sy ons hande vashou.”
“My rose blom heeljaar - en dit gee my soveel vreugde; ek wil net uitdeel en my vreugde met almal deel,” vertel Ida, en dis duidelik dat haar passie vir blomme ná haar aftrede tot volle reg kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’