OOS-KAAP NUUS - In die aanloop tot die matriekeindeksamen wat in Oktober 'n aanvang neem, voorsien Afriforum wenke aan leerders rondom die belang van tydsbestuur, veral vir leerders wat vol programme het.
Volgens Carien Bloem van Afriforum is die derde skoolkwartaal waarin ons nou is, besig - gevul met akademie, sport, kultuur en vele meer.
“In vandag se vinnig bewegende wêreld is dit nie ongewoon dat leerders se dae gevul is met skoolwerk, sport, kultuuraktiwiteite en soms selfs werkies in en om die huis nie.
Hoewel dit wonderlik is dat kinders hulle op verskeie maniere en terreine uitleef, kom dit dikwels teen ’n koste: stres, onnodige vroeë uitbranding en onvoldoende prestasie,” sê Bloem.
Ouers speel ’n belangrike rol om hul kinders te help met effektiewe tydsbestuur en die vind van balans in hul lewens.
Bloem het met Liandri Venter, die fasehoof by Laerskool Hennopspark, gesels oor die uitdagings wat ’n besige skoolprogram meebring, want glo dit of nie, kinders het van so vroeg as gr. 1 af druk programme, en ouers moet hul kinders betyds hiervoor voorberei.
Luister gerus ook na die potgooi op Afriforum se webwerf getiteld "Onderwys in gesprek".
Die volgende praktiese wenke kan leerders help voorberei en die volgende klompie weke voor die matriekeksamen benut:
1. Leerders benodig dikwels hulp met die opstel van ’n weeklikse aktiwiteitsrooster.
Gebruik ’n visuele weekrooster – hetsy op papier, ’n witbord of ’n digitale hulpmiddel – waarop alle aktiwiteite aangeteken word: klasure, huiswerk, sport, ontspanning en slaap.
Dit help leerders om hul tydsindeling te visualiseer en verantwoordelikheid te neem.
2. Leerders word aangemoedig kort, gefokusde studietye te gebruik, nadat navorsing bewys het dat kort sessies van 25 tot 30 minute, gevolg deur ’n kort breek, baie meer effektief is as lang ure se aaneenlopende leer.
Hierdie metode, bekend as die Pomodoro-tegniek, bevorder konsentrasie en help om uitbranding te voorkom.
3. Wanneer leerders hul werk prioritiseer, verlig dit hul las. Bloem verduidelik dat baie jongmense sukkel om take te prioritiseer.
Kinders moet geleer word om onderskeid te tref tussen wat dringend is (bv. ’n taak wat môre ingehandig moet word) en wat belangrik is (bv. voorbereiding vir die eksamen oor ’n maand).
Dit kweek vooruitbeplanning en verantwoordelikheid.
4. Bou rus- en speeltyd in, want tydbestuur beteken nie om elke minuut te vul met “produktiwiteit” nie.
Kinders het tyd nodig om te rus, te sosialiseer en net kind te wees. Dit is juis hierdie balans wat langtermynsukses en -gesondheid ondersteun.
5. Wees ’n voorbeeld. “Kinders leer nie net uit wat ons sê nie, maar ook uit wat ons doen.
As ouers moet ons self goeie tydbestuur uitbeeld – of dit nou beteken om self ’n beplanningslys te gebruik, of doelbewus tyd te maak vir familie en rus,” beklemtoon Bloem.
Laastens sê sy dat tydbestuur nie net ’n belangrike vaardigheid vir elke kind se skoolloopbaan is nie – dit is ’n belangrike lewensvaardigheid wat kinders toerus om suksesvol te wees in hul verdere universiteit-, en of werkloopbaan en hul persoonlike lewens.
Met geduld, ondersteuning en die regte hulpmiddels, kan elke leerder leer om hul tyd wys te benut.
Vanaf Afriforum wens Bloem alle leerders sterkte toe met die derde kwartaal.
“Mag al die harde werk vrugte afwerp.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’