Gallery Update Video
KAROO NUUS - 'n Video van vier jong voetgangers wat hardloop vir hul lewens en met 'n breukdeel van 'n sekonde 'n gewisse dood vryspring - letterlik - het landwyd opspraak verwek.
Die vier tienerseuns het Sondagmiddag, 16 April, om 13:27 doodgerus langs Metcalfstraat in Cradock gestap, toe die bestuurder van 'n gesteelde voertuig tydens 'n jaagtog met die polisie beheer oor die motor verloor en reguit op hulle afpyl.
FOTOGALERY: Jaagtog in Cradock eindig sleg
Op 'n video wat deur 'n sekerheids-straatkamera verfilm is, sien mens hoe die kinders op die nippertjie laat spaander om uit die pad van die Mercedes Benz te kom wat op die presiese plek op die sypaadjie waar die groepie stap die pad byster raak en rol. In 'n tweede video, geneem van 'n ander hoek, is dit duidelik dat die bestuurder van die Mercedes beheer verloor na hy oor 'n stopstraat jaag en vir 'n bakkie uitswaai.
Gaan kyk die ongelooflike videos by www.graaffreinetadvertiser.com of op Graaff-Reinet Advertiser se Facebook-blad.
In George gesteel
Die Mercedes Benz ML 2017-model is Sondagoggend vroeg in George in die Wes-Kaap gesteel. Die eienaar van Outeniqua Motors in George, Brett Stander, het onmiddellik die diefstal by die polisie in George gerapporteer na die voertuig vroegoggend by sy besigheidsperseel gesteel is.
Die Mercedes is later deur Navic (National Vehicle Intelligence Cloud) in Graaff-Reinet bespeur en toe weer later in Cradock waar 'n privaat sekerheidsmaatskappy, CDK Sekuriteit, die motor gesien het en die Cradock-polisie verwittig het, vertel Ivan Stock, besturende direkteur van CDK Sekuriteit.
'n Jaagtog in Metcalfweg het gevolg en die voortvlugtende het beheer oor die Mercedes verloor met byna noodlottige gevolge vir die vier tienerseuns.
Die motor het op sy dak tot stilstand gekom, en na die gebied beveilig is, is die verdagte, 'n 45-jarige man, uit die motor gehaal.
Die K9-hoofwegpatrolliespan het hom deursoek en 'n wapen is gevind.
Sers. Charlton du Plessis het die man in hegtenis geneem en is bygestaan deur konst. Dean Tam, sers. Frank Peters, konst. Johan Claassen, sers. Julian Etto en sers. Marasha. Die waarde van die gesteelde voertuig is R460 000 en is in bewaring by Cradock-polisie.
Die verdagte het Maandag 17 April in die Cradock-landdroshof verskyn.
Die Chris Hani-distrikskommissaris, Majoor Generaal Rudolph Adolph, loof alle rolspelers met spesifieke verwysing na Cradock-polisie en hul K9-eenheid, Cradock-hoofwegpatrolliedienste, CDK Sekuriteit, Graaff-Reinet SAPD OCC, Graaff-Reinet K9-eenheid, asook Sintell/Agri Navic-kamerasisteme.
VERSKAFDE VIDEO: In die tweede video, geneem van 'n ander hoek, is dit duidelik dat die bestuurder van die Mercedes beheer verloor na hy vir 'n bakkie uitswaai.
Die ongeluksterrein is afgekordon voordat die gewapende verdagte uit die voertuig verwyder is. Foto: Cradock SAPS
Dié lede van Cradock-SAPD is geloof vir hul knap werk. Van links is konst. Dean Tam, sers. Charlton du Plessis, sers. Frank Peters, konst. Jason Claassen en sers. Julian Etto. Voor sit hul geliefde meisie, Britney. Foto: Cradock SAPS
Vorige artikels:
- Mercedes missiel: Voetgangers mis dood met breukdeel van sekonde
- Jaagtog in Cradock eindig sleg vir gesteelde Benz van George
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’