CRADOCK NUUS - ‘n Mercedes Benz wat op 14 Maart in George in die Wes-kaap gesteel is, het ‘n maand later, Sondag 16 April, met ‘n slag kop uitgesteek in die Oos-Kaap.
Die Mercedes, met ‘n waarde van R460 000, is deur Navic (National Vehicle Intelligence Cloud) in Graaff-Reinet bespeur, en weer die afgelope Sondag omstreeks 11:00 buite die dorp opgemerk onderweg na die Lootsbergpas na Middelburg.
Cradock se polisie en K9-hoofwegpatrolliespan het die R61 kruising beman en toe na die N10 beweeg, maar die voertuig was skoonveld.
Navic het die polisie toe verwittig dat hulle kamera die motor sowat 60 km van Cradock - 100 km ver van die soekende polisie - opgetel het.
Met die polisie se aankoms in Cradock het CDK Sekuriteit hulle laat weet waar die motor is en ‘n jaagtog in Metcalfweg het gevolg, vertel Ivan Stock, besturende direkteur van CDK Sekuriteit. Die voortvlugtende het egter beheer oor die Mercedes verloor en die motor het op sy dak te lande gekom.
Die K9-hoofwegpatrolliespan het die verdagte, ‘n 45-jarige man, deursoek en ‘n wapen is gevind. Die man is glo ongedeerd en sal binnekort in die Cradock-landdroshof verskyn.
Die beskadigde voertuig is in bewaring by die Cradock-polisie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’